Bat Hawk
Vlermuisvalk

© Per Holmen
Bat Hawk.

Naam

Vlermuisvalk (Macheiramphus alcinus)

Voorkoms

Die volwasse vlermuisvalk is heeltemal swart behalwe ’n wit kol bo en onder die oog. Die middel van die bors en die keel is wit met ’n breë swart streep in die middel. Die oë is heldergeel, die washuid swart en die bene en pote ’n dowwe blougrys. Die onvolwasse vlermuisvalk is meer bruin gevlek met ’n dowwer kleur by die stertvere en meer wit op die bors.

Dieet

Die vlermuisvalk eet hoofsaaklik vlermuise, windswaels en swaeltjies en somtyds ander kleiner voëls en insekte. Alle prooi word met ’n hoë spoed in die lug gevang. Dit vang nooit prooi op die grond nie, maar sal dit onophoudelik jaag en selfs in ’n gebou ingaan om dit te vang.

Voortplanting

Wanneer die broeiseisoen begin is daar baie skouspelagtige hoë spoed toertjies in die lug naby die broeiplek, met waaghals toertjies soos ’n gerol en voëls wat laag en baie vinnig op die nes afkom en dan wegswenk na ’n tak toe. Die nes word dikwels in dieselfde boom gebou as wat die voëls bedags in sit. Albei geslagte bou die nes, maar die wyfie doen meer as die mannetjie. Takkies word in die vlug van dooie takke afgebreek en dan laat val. Dit is gewoonlik hoog in ’n boom, gebou op ’n groot dwars tak, maar soms in die middel van die boom. Dit is ’n groterige struktuur omtrent drie voet lank en een voet diep, met 'n breë vlak holte en dit is soms nie uitgelê met nesmateriaal nie, anders as die ander roofvoëls. In beide die Ooste en in Afrika bly dit soms in besige dorpe. Slegs die wyfie lê op die nes en vlieg net nou en dan rond. Teen sononder verlaat sy die nes en vlieg rond, maar gaan nie altyd jag nie. Dikwels voer die mannetjie haar op of naby die nes. Die inkubasieperiode is ongeveer ’n maand.
Die baba voëltjies word deur albei ouers gevoer en verlaat die nes op ongeveer 35 - 40 dae oud. Die baba voëltjies word eers gedurende die laaste vyftien tot twintig minute voor die donker gevoer. Gedurende hierdie tyd word daar vinnig kos gegee, een keer elke drie of vier minute en die ouers gooi dikwels in die vlug die kos op die nes se rand en kom aanhoudend terug met meer. Die prooi wat na die kleintjies toe gebring word sluit dikwels insekte in. Gedurende die eerste dae van die jong voëltjies se eerste vlug bly die wyfie op die nes by hulle, maar in die laaste week of tien dae van die tydperk sit albei ouers albei op takke by die nes of in aangrensende bome. Die jong voëltjies bly net ’n kort tydjie naby die nes. Die volwasse vlermuisvalk broei gewoonlik een keer per jaar.

Sosiale gedrag

Die vlermuisvalk is meestal stil, maar in die skemer en gedurende hofmakery het dit ’n gevarieerde hoë, gebroke ‘kiek-kiek-kiek-keee’ of ‘kwiek - kwiek’ fluit. Hierdie roep klink effens flou vir die grootte van die voël. In vlug lyk die vlermuisvalk soos ’n donker, lang vlerkige slanke voël, maar met die silhouette van ’n groot valk. As dit in ’n boom sit en rus kan dit duidelik uitgeken word aan die byna swart lyf, wit keel met middel streep en groot helder geel oog. Die belangrikste ding in die vlermuisvalk se lewe is oop ruimtes met baie vlermuise, swaeltjies of selfs groot insekte wat dit met skemertyd kan vang. Dit kan in die aand gesien word as dit jag naby swembaddens, groot riviere, strande, treinstasies, of selfs groot grasperke naby geboue. In die Verre Ooste kom dit gereeld voor naby kalksteen en ander grotte wat deur swaels bewoon word. As gevolg van sy gespesialiseerde gewoontes is dit ’n seldsame voël deur die grootste deel van van sy area, maar is baie algemeen waar dit wel gevind word en kom in dorpe sowel as landelike gebied voor. Met dien verstande dat die vlermuisvalk se basiese vereistes vir ruimte en kos nagekom word, kan dit byna oral voorkom.
As die vlermuisvalk jag sirkel dit met ’n hoë spoed oor die gekose area terwyl dit boontoe, ondertoe en kante toe kyk, anders as ander roofvoëls wat net ondertoe kyk. Dit vang vlermuise, windswaels, swaeltjies en insekte met behulp van die pote terwyl dit vlieg en sluk dit heel in. Die vlermuisvalk jag vir omtrent ’n halfuur lank in Afrika, maar langer in die Ooste waar windswaels meer as vlermuise gevang word. Om dit in staat te stel om genoeg te vang om te oorleef in die kort tyd wat beskikbaar is moet die prooi volop en klein wees, aangesien dit heel gedurende die vlug ingesluk word. Die vlermuisvalk vang nie groot vrugtevlermuise nie, al is dit volop in sy gebied, maar beperk homself tot kleiner vlermuise en voëls. Gedurende die dag sit die vlermuisvalk roerloos in ’n groot boom. Dit vlieg selde of ooit bedags rond behalwe in die broeiseisoen. Dit begin ’n rukkie voor skemer rondvlieg en jag totdat dit donker is. Dit jag ook vroegoggend.

Verspreiding

Die vlermuisvalk kom in Maleisië, suidoostelike Nieu-Guinee en sub-Sahara Afrika in habitatte wat wissel van digte tropiese woude tot semi-droë bosveld voor.