Welwitschia

© Thomas Schoch

Naam

Welwitschia [Welwitschia mirabilis]

Inleiding

‘It is out of the question the most wonderful plant ever brought to this country, and one of the ugliest,’ was die reaksie van Regius Keeper van die koninklike botaniese tuin in Kew in 1863 toe hy ‘n welwitschia mirabilis in ontvangs geneem het. Die plante het ongewone, groot bandvormige blare wat al met die grond langs groei.

Elke plant produseer gedurende sy leeftyd slegs twee blare wat dikwels skeur in baie segmente as geveolg van die wind wat dit rondwaai. Koolstof-14 daterings van die grootste plante bevestig dat sommige plante reeds ouer as 1500 jaar is.

Beskrywing

Die welwitschia mirabilis is ‘n tweehuisige, meerjarige plant met ‘n kort stam en penwortel. Afgesien daarvan word die plant dikwels beskryf as bisar, eienaardig en verskillend van enige ander plant op aade. Die kort, houtagtige onvertakte stam word omring deur twee bandvormige blare wat groei uit ‘n basale meristeem vir die totale leeftyd van die plant, en verweer en verdraai met die verloop van eeue.

Stomata verskyn op beide blaaroppervlakke. Die houtagtige stam word breër met ouderdom sodat dit ‘n konkawe skyf word – tot ‘n meter in deursnee – waaruit klein vertakkings groei wat slegs dien om stuifmeel en saadkeëls te dra. Die vertakte voortplantingslote verskyn naby die blaarbasisse. Rooi stuifmeelkeëls, ssortgelyk aan dié van Ephedra, verskyn in groepe van 2 – 3 op elke tak. Normaalweg ontwikkel slegs een saad in ‘n keel en word deur die wind versprei.

Blaareienskappe

Die blare is die langslewende in die planteryk en is immergoren, ‘n enkele paar en gewoonlik breed en plat. Die breedste onbeskadigde blaar is 179cm breed. Dié spesifieke blaar was 6m lank, waarvan 3.15m lewende weefsel was. Die oppervlakte wat deur hierdie blaar beslaan word, help die plant oorleef by grondtemperature van so hoog as 65°C.

Dit hou die grond onder die plant koel en klam. Die blare groei jaarliks met gemiddeld 13.8cm; dus kan een plant tot 150m blaarweefsel produseer oor ‘n groeitydperk van 1000 jaar.

Die blare is gemiddeld 1.4cm dik en omdat hulle op die grond lê, verhoed hulle winderosie. Selfs in stormsterk winde bly die breë blare stokstyf en roerloos. Absorpsie van water deur die stomata is baie merkwaardig. Hierdie eienskap van die blare het die spesies se voortbestaan verseker.

Die stomata bly oop totdat die mis gelig het en hoewel baie van die water wat op die blare kondenseer het afdrup, word ‘n gedeelte daarvan tog direk opgeneem. In teenstelling met ander plante, is die stomata oop tydens mistige toestande en sluit wanneer dit warmer raak. Dit verhoed dat water deur verdamping verlore gaan weens die hitte van die dag.

Ligging

Die welwitschia is endemies aan die Namib-woestyn, een van die wêreld se oudste woestyne wat strek al langs die westelike deel van die Namibiese kus tot in die suidwestelike gedeelte van Angola. Die gebied ontvang geen reënval gedurende sommige jare nie en handhaaf ‘n jaarlikse gemiddelde reënval van minder as 100mm.

Die meeste welwitschias word aangetref binne 80 km van die kus in ‘n misband wat impliseer dat mis ‘n belangrike vorm van vog is.

Blare groei tipies teen ‘n tempo van 8-15cm per jaar op volwasse plante waarvan sommige se blare 1.8m breed en 6.2m lank is, en dui op waarskynlike ouderdomme van 500 tot 1000jaar.
Die meeste observasies is gedoen op die Welwitschia Fläche, ‘n woesteinvlakte sowat 50km oos van Swakopmund en oos van die samevloeiing van die Khan- en Swakopriviere.

Geskiedenis

Die eerste welwitschiaplant is ontdek deur ‘n Oostenrykse botanis, Friedrich Welwitsch (1806 -1872) in 1860 in die Namibwoestyn in die suide van Angola. Die plant is na hom vernoem uit erkenning vir sy botaniese navorsing en omdat hy die eerste welwitschia versamel het.

Dr. Friedrich Welwitsch (1806 – 1872)

Friedrich Welwitsch is gebore in Oostenryk waar hy vir ‘n tyd lank gewerk het as teaterkritikus. Nadat hy na Portugal gevlug het, het hy begin om plante te versamel. Toe hy etlike jare daarna deur die Portugese regering na Angola gestuur is, het hy meer as 5000 plante versamel tydens sy 12 jaar in die land.

Sommige was totaal nuut vir die wetenskap van daardie tyd en het groot hoeveelhede bruikbare informasie verskaf. Nadat hy na Angola teruggekeer het, het Welwitsch besluit om in Londen te gaan bly om naby die Natural History Museum en die Royal Botanical Gardens te wees. Daar het hy gewerk tot met sy dood in 1872.

Na sy dood het die Portugese regering (wat sy versamelings befonds het) die eksekuteurs van sy boedel hof toe geneem om die versamelings in die hande te probeer kry. Na ‘n 3 jaar-lange hofstryd is ‘n kompromie bereik en die Portugese regering het die eerste stel duplikate ontvang en die Natural History Museum die tweede stel. Dr. Friedrich Welwitsch is begrawe in die Kensal Green Cemetery in Londen en sy grafsteen is gegrafeer met ‘n welwitschia.

Veldaantekeninge

Aanvanklik is gemeen dat ‘n insek wat leef op die welwitschia – bekend as die welwitschia kewer -verantwoordelik was vir die bestuiwing van die plant, maar dis verkeerd bewys. Die insek is ‘n ware kewer wat leef van die sap van die plant.