Weeping Boer Bean
Huilboerboon

© Roger de la Harpe

Naam

Huilboerboon (Schotia brachypetala)

Ander name

Kinderbessieboom en Afrika okkerneut

Beskrywing

Die blomme van die huilboerboon het helderkleurige kelkblare, meeldrade en steeltjies wat oorloop van druppende nektar. Dis waarskynlik die oorsprong van die algemene Afrikaanse naam van die boom.
Die huilboerboon is ‘n medium tot groot boom wat gewoonlik tussen 11 en 16 meter hoog is, maar tot 22 meter hoog kan word. Dit het ‘n enkele stam met die eerste takke wat na-aan die grond verspring. Die boom het digte takke met ‘n ronde, wydspreidende top. Blare is is saamgesteld, bestaande uit vier tot ses blaartjies. Blare het gekartelde rande en is koperrooi wanneer hulle jonk is en verkleur dan heldergroen tot ‘n blink donkergroen soos hulle ouer word. Die bas van die boom het ‘n growwe tekstuur en is bruin tot grysbruin gekleur. In rypvrye gebiede is die huilboerboon immergroen. In kouer areas is dit bladwisselend en verloor blare vanaf die winter tot die lente.

Huilboerboonblomme

Die huilboerboon blom gedurende die Suid-Afrikaanse lente, vanaf Augustus tot November, hoewel die blomtydperk redelik sporadies is aangesien een boom mag staan en blom langs ‘n ander een met geen blomme nie. Dit affekteer die voëls wat die blomme vreet, maar verseker ook ‘n verlengde blomtydperk. Die blomme is ‘n helder, dieprooi kleur en word in trossies gedra op ouhout in die digte boomtoppe.

Huilboerboonvrugte

Die boom dra vrugte in die vorm van ‘n peul – hard, plat, donkerbruin en houtagtig. Die peule dra plat, ligtebruin sade met geel arillus en is 20mm in deursnee. Die peule word ryp in die somer en herfsmaande – Februarie tot Mei – en spring oop terwyl hulle aan die boom hang.

Gebruike vir die huilboerboon

Die huilboerboontop is ‘n besige en lawaaierige plek gedurende sy blomtydperk weens ‘n verskeidenheid voëls, insekte en diere wat daardeur aangetrek word. Nektarvretende voëls soos die suikerbekkies, en insekte en bye vreet die nektar en trek dan weer insekvretende voëls aan wat van die nektarvretende insekte lewe. Ape en bobbejane en spreeus vreet die blomme, ape eet die sade in die peule en voëls eet die arillusse van die sade. Die blare word bewei deur wild. In wildreservate sal ‘n mens swartrenosters teëkom wat die bas van die huilboerboon vreet.
Die boom word op verskeie wyses gebruik om kwale te dokter. ‘n Mengsel van die wortel en bas word gebruik om hartsenuweetoestande en maagprobleme te behandel en om die bloed te suiwer. ‘n Afkooksel van die bas word gebruik teen sooibrand en babelaas.
Geroosterde huilboerboonsade kan geëet word. Dit bevat baie koolhidrate en min vet en proteïene. Vroeë Europese setlaars en Bantoe-sprekende mense het by die Khoikhoi geleer om ryp peule te rooster en die sade te eet. Die bas is gebruik as kleursel met ‘n rooibruin tot rooi kleur. Die kern-of pithout is termietwerend, hard en swaar met ‘n donker okkerneutkleur. Die digte, fyn tekstuur maak hierdie hout uitstekend vir meubels en blokkiesvloere. Daar word gesê dat dit gewild was as wabome en ander dele van die wa. Die jonghout is slegs duursaam indien behandel en het ‘n gryspienk kleur.

Huilboerboonhabitat

Hierdie boom groei in warm, droë dele in bladwisselende woudlande, bossieveld en bosveld. Dit word dikwels aangetref op verlate miershope en die oewers van riviere en stroompies.

Waar hulle voorkom

Die huilboerboon kom wydverspreid voor in Suid-Afrika, veral in die laagliggende gedeeltes van die Oos-Kaap naby Umtata, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dit word ook aangetref in Swaziland, Zimbabwe en Mosambiek.

Veldaantekeninge

Die wetenskaplike naam van die huilboerboon- Schotia brachypetala- beteken “het kort blaartjies” in Grieks. Dit verwys na die kenmerkende blomme van die Schotia spesies wat blaartjies het wat geheel of gedeeltelik verklein is tot draad-agtige vesels.