Wanneer om Koeie te Insemineer

© Pieter Langenegger

Nadat ‘n koei gekalf het herstel die baarmoeder en krimp tot die normale grootte. Die herstelproses kan vanaf 25 tot 50 dae duur. In gevalle waar koeie probleme ondervind het tydens die kalwingsproses kan dit aanleiding gee tot baarmoederinfeksie. Dit sal die herstelperiode vertraag. Nadat die baarmoeder volledige herstel het sal koeie weer normaal op hitte kom. Hierna kom koeie elke 19 tot 21 dae op hitte.
Tydens die hitteperiode ontwikkel die follikel in die eierstokke (ovaria). Wanneer die follikel volwasse is word dit vrygestel vir bevrugting. Indien bevrugting nie plaasvind nie, herhaal die hittesiklus onder die invloed van hormone.
Daar is ‘n aantal tekens wat daarop dui wanneer ‘n koei op hitte is. Die beste teken is wanneer sy stil staan om deur ‘n bul gedek te word of om geïnsemineer te word. ‘n Bykomende teken is ‘n helder slymafskeiding vanuit die vulva. Sowat 12 ure na die einde van die staande-hitte teken bars die follikel oop (ovulasie) en stel die eiersel (ovum) vry om bevrug te word.

Hoe om Kunsmatige Inseminasie (KI) te Doen

Die inseminasie van koeie is ‘n relatief eenvoudige proses, maar die regte tegnieke moet gebruik word om goeie resultate te behaal. Semen vir KI word in 0.5 ml plastiekstrooitjies binne ‘n sementenk gestoor. Die temperatuur binne die sementenk word by -196°C gehou deur vloeibare stikstof.
‘n Aantal basiese stappe van die KI van koeie is onder andere die volgende: ontdooi die semen in warm water teen 35°C (gebruik ‘n warmwaterfles). Verwyder die strooitjie na sowat ‘n minuut, droog dit af met ‘n papierhanddoek en sit die strooitjie binne ‘n opgewarmde pistolet (inseminasie-toestel). Sny die punt van die strooitjie af sodat semen uitgedruk kan word. Plaas ‘n plastiekskede oor die strooitjie en pistolet om die semen teen bakterieë te beskerm.
Plaas hierna die pistolet binne die vulva van die koei waarna dit versigtig vorentoe gestoot word tot by die opening van die serviks. Hou die serviks met die regterhand deur die rektumwand vas terwyl die pistolet deur die serviks word. Voel met die vinger wanneer die pistolet deur die serviks is en stoot die semen uit in die baarmoeder. Moet nie die pistolet diep in die baarmoeder druk nie anders word die semen in een van die twee baarmoederhorings gestort.
Hierna kan die baarmoeder liggies gemasseer word om die beweging van die semen in die baarmoederhoring te stimuleer. Hou die koei na inseminasie vir ‘n kort tydjie in afsondering en rustig. Indien die inseminasieproses nie suksesvol is nie, sal die koei weer op hitte kom sowat 19 tot 21 dae later. Hou haar dus dop om dragtigheid te bevestig of om ‘n volgende inseminasie te doen.

By Dr Carel Muller