Waatlemoen Gewasbestuur

© Louise Brodie

Wisselbou

Dit is altyd raadsaam om gewasse af te wissel en sodoende die opbou van sekere plae en siektes te voorkom. Wissel die waatlemoen met peulgewasse en blaargroentes af.

Opbrengs (ton per hektaar)

Konserwatief: 10 ton Gemiddeld: 25 ton Goed: 50+ ton

Oes

Waatlemoen word met die hand geoes omdat die gradering en die rypheid van die vrugte op die land deur die plukker bepaal word. Moet nie die waatlemoen van die rank aftrek nie. Gebruik ’n skerp mes of skêr om die waatlemoen se stingel af te sny. Laat ongeveer 4 cm van die stingel aan die waatlemoen agter om te verhoed dat dit vrot.

Die waatlemoene moet heeltemal ryp wees, want nadat dit gepluk is word dit nie verder ryp nie. Die beste manier om rypheid te toets is met ’n refraktometer. Neem op verskeie plekke monsters en as die Brix (suikerinhoud) 9 – 10% is, kan die waatlemoene geoes word. Hierdeur kan jy ook die interne kleur van die vrugte nagaan en smaak toetse doen.

Die verdroging van die stingels naby die stam dui ook daarop dat die vrugte ryp is en nie meer voeding inneem nie. Daar kan ook teen die waatlemoen geklop word en ’n dowwe klank dui rypheid aan. Dieselfde land word gewoonlik twee of selfs drie keer geoes voordat al die vrugte gepluk is. Daar moet in die vroeë oggend in koel temperature geoes word.

Berging

Die waatlemoen moet so gou moontlik na oestyd na ’n koel vertrek geneem word. Dit kan teen 12 – 14°C en ’n relatiewe humiditeit van 90% gestoor word. Die maksimum tydperk vir die meeste variëteite is twee tot drie weke.

Plae

Algemene plae is “seedcorn maggots”, plantluise (aphids), aalwurms (nematodes), skorsiekewers (squash bugs), tabak-witvlieë (silverleaf whiteflies) en komkommerkewers (striped and spotted cucumber beetles).

Siektes

Algemene siektes is “charcoal rot”, phytophthora, antraknose (anthracnose), donsskimmel (downy mildew), fusarium verwelk (fusarium wilt), cercospora blaarvlek (cercospora leaf spot), poeieragtige skimmel (powdery mildew) en “gummy” stamskroei (gummy stem blight).Translated by Ananda Schoeman