Vertraagde Groei by Varke

©National Pork Board, USA
Varke wat stadig groei of nie gewig aansit nie sal ’n negatiewe uitwerking op die winsgewendheid van die boerdery hê met elke ekstra dag wat nodig is om hulle te voer. Vertraagde groei en ’n swak kondisie kan aan verskeie faktore, soos genetika, wanvoeding, parasiete, siektes en omgewingstoestande toegeskryf word.

Genetika

Sommige varkrasse weeg meer by geboorte en groei vinniger as ander. Sekere rasse se sôe is beter moeders en het ook meer melk wat tot gevolg het dat hulle varkies vinniger groei en gesonder is. Kyk dus na wat normaal is vir die spesifieke ras wanneer groei-teikens vasgestel word en vergelyk jou produksie resultate met dié van ander boere.
Om die beste eienskappe van albei rasse te kry gebruik baie boere kruisteling, met ander woorde ’n beer van een ras met ’n groep sôe van ’n ander ras. As dit gedoen word moet al die varke van hierdie nageslag verkoop word, aangesien teling met hierdie nageslag tot ’n verhoging van al die negatiewe eienskappe van die twee rasse kan lei.
By die kies van teelvarke is dit belangrik om diere te kies wat goed groei, voortplant en kwaliteit vleis het.

Wanvoeding

Varke mag swak groei omdat hulle nie genoeg eet nie. Dit kan wees omdat die voer van swak gehalte is, moeilik is om te verteer, onsmaaklik is of omdat die varke nie genoeg van die regte voedingstowwe inkry nie.
Raadpleeg ’n dieregesondheid tegnikus of dieetkundige om jou te help om ’n gebalanseerde voedingsprogram te formuleer wat voldoen aan al die behoeftes van jou varke tydens elke spesifieke fase van produksie. So ’n program moet nie net die dieet behoeftes van varke in ag neem nie, maar ook die voedingsbronne wat geredelik in jou omgewing beskikbaar is en die koste van die voer.
Daarbenewens moet jy verseker dat die varke toegang het tot genoeg voer, hetsy die varke buite wei of in ’n intensiewe produksie eenheid is. As die varke vryloop moet hulle toegang tot aanvullings hê om tekorte in die weiding te oorbrug. Boere moet ook verseker dat elke vark toegang tot die voer het deur die kompetisie by die voerbakke te verminder. Dit kan gedoen word deur te verseker dat daar genoeg ruimte vir elke vark by die voerbakke is. Voer moet skoon en vars wees anders hou dit gesondheidsrisiko’s in of die varke wil dit nie eet nie.

Parasiete

Eksterne parasiete soos myte, luise, bosluise en vlooie kan so ’n irritasie veroorsaak dat die varke meer tyd spandeer om die gejeuk te verlig as om te eet. Inwendige parasiete soos wurms kan ook tot verswakte groei lei.
Goeie higiëne in die produksiegebied sal met die bestryding van parasiete help. Indien daar ’n parasitiese besmetting is, moet dit so gou as moontlik behandel word om te voorkom dat dit na ander varke versprei. Dit is sinvol om varke voorkomend te behandel as daar ’n spesifieke risiko in jou boerdery bestaan. Raadpleeg ’n veearts of dieregesondheid tegnikus vir advies.

Siektes

©National Pork Board, USA
’n Vark wat siek is of “ongelukkig voel” mag dalk nie eet nie. Probeer om siektes te voorkom en behandel siek varke so gou as moontlik.

Omgewingstoestande

Hitte-stres het ’n negatiewe impak op voer inname, terwyl koue temperature varke meer as gewoonlik sal laat eet in ’n poging om hulleself te verwarm. Voorsien varke tydens die kouer tye van die dag met voer. Gedurende warm weer moet hulle voeding met bykomende minerale aangevul word om te vergoed vir die verlies aan voedingstowwe.
Daar moet voorkom word dat veral jong varkies koud kry aangesien dit hulle meer kwesbaar vir siektes sal maak en tot swak groei sal lei.

Translated by Ananda Schoeman