Vanaf Robbeneiland terug na Kaapstad

’n Promenade

©Roger DelaHarpe
Besoekers word toegelaat om langs die tronksel te staan en foto’s te neem, maar hierdie foto’s kan egter nie die kloustrofobies gevoel van die sel uitdruk nie. Dit is moeilik om te begryp hoe iemand met so ’n oop hart uit hierdie ingeslote ruimte kom. Hy (en die ander gevangenes) vertoon die ontembare gees van Suid Afrika en dit is ongelooflik om te dink dat hulle uit die tronk gekom het met so ’n positiewe uitkyk op die lewe. Dit is ook interessant om daarop te let dat baie van die eerste politieke leiers van ’n demokratiese Suid Afrika van die gevangenis na die parlement gegaan het en nie andersom nie.

Na die ritualistiese pelgrimstog word die besoekers deur hulle gids uit die tronk begelei na die hawe waar die veerboot hulle terug na Kaapstad neem. In die kort tydjie wat jy nog beskikbaar het, kan jy óf deur die winkel drentel óf ’n haastige wandeling op die promenade vat. Dit bied ’n uitsig oor die pikkewyne wat langs die hawe in die water speel.

Die veerboot rit terug na Kaapstad is net so visueel onvergeetlik as die rit na die eiland. Dit is ook ’n goeie tyd om terug te sit en te reflekteer. Alle mense het verskillende reaksies na hulle tyd op Robbeneiland. Sommige mag peinsende wees oor hulle ervaring en ander is weer opgewek daaroor dat al die gevangenes se opofferings ’n gelukkige einde gehad het. Dan is daar diegene wat net ’n bier wegslaan en oorweeg waar om aandete te geniet.

’n Emosionele Ervaring

©Roger DelaHarpe
Ongeag jou reaksie op die Robbeneiland-toer, bly dit ’n belangrike ervaring wat deur alle Suid-Afrikaners en alle mense onderneem moet word. Selfs as jy net deur die bekende Mandela gelok word, probeer om jouself vir die hele ervaring oop te maak. Dit is ’n baie emosionele ervaring en verskeie besoekers het al hartaanvalle gekry terwyl hulle die eiland besoek.

Eens terug by die Waterfront, lok die genot van Kaapstad in ’n bevryde Suid Afrika jou weer. Voordat jy wegraak in die helder lig van ons huidige demokrasie, dink nog een keer weer aan die verlede. Alhoewel dit beslis verleidelik is om ons pynlike geskiedenis te vergeet en net op die gelukkige einde wat ons nou geniet te konsentreer, sou dit ’n groot fout wees. Slegs deur die lang en martelende verhaal van Robbeneiland te onthou, sal ons verseker dat die lesse wat so geleer is, oorgedra word aan die volgende generasie. Laat ons altyd die twee baie belangrike woorde, wat op die moderne beeldhouwerk by die ingang van Dachau en die ander Nazi-konsentrasiekampe staan, onthou: Plus Jamais – Nooit weer nie.

Translated by Ananda Schoeman