UNESCO en die Vredefortkoepel

© David Fleminger

Wat is die Vredefortkoepel?

So wat is die Vredefortkoepel nou eintlik en hoekom is dit as ’n Wêrelderfenisgebied verklaar? Omtrent 2 biljoen jare gelede (biljoen, soos in 1000 miljoen) was daar ’n katastrofiese gebeurtenis net buitekant die hedendaagse dorpie Vredefort in die Oranje-Vrystaat. ’n Enorme meteoriet, wat omtrent 10 tot 15 km in deursnee was, het op die aarde neergeval en ondenkbare skade en chaos veroorsaak.

Na al die stof bedaar het, was daar ’n krater van omtrent 200-300 km in deursnee. Dit strek van Welkom in die suidweste na Pretoria in die noordooste. In die middel van die krater was ’n prominente hoogte, amper soos die spatsel wat jy sal sien as jy ’n klip in ’n dam gooi. Hierdie hoogte is die Vredefortkoepel en was oorspronklik 100 km in deursnee. Vandag is die grootste deel van die Koepel deur erosie weggevreet of deur nuwer rotslae bedek. Daar is egter nog steeds ’n oorblyfsel van hierdie Koepel wat rondom die hedendaagse dorp Parys lê.

Grootste Impak-Struktuur

Die Vredefortkoepel is een van die eerste en grootste impak-strukture wat op aarde gevind kan word. Daarbenewens het die impak letterlik die aarde omgekeer en antieke rotslae blootgestel wat op geen ander plek op die planeet sigbaar is nie. En daar is nog meer! Daar word vermoed dat die impak die goudneerslae wat naby die oppervlak teenwoordig was begrawe het. Sodoende is die Witwatersrand-goudvelde vir die toekomstige geslagte bewaar.

Alhoewel dit dus nie so dramaties is soos die Drakensberge of histories tasbaar soos Robbeneiland nie, is die bergagtige gebied rondom Parys van groot geologiese belang vir die hele wêreld. Die Koepel beklemtoon ook die deurslaggewende rol wat die meteoriete se impak in die vorming van ons planeet gespeel het en die ontwikkeling van die lewensvorme wat op die oppervlak floreer.

’n Astroletsel

Soos die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) dit stel: “Die Vredefortkoepel, ongeveer 120 km suidwes van Johannesburg, is ’n verteenwoordigende deel van ’n groter meteoriet impak-struktuur of astroletsel. Dit het 2 023 miljoen jaar gelede geval en is die oudste astroletsel wat tot dusver op aarde gevind is. Met ’n deursnee van omtrent 190 km is dit ook die grootste en die meeste aan erosie blootgestel. Dit getuig van die wêreld se bekendste energievrystelling gebeurtenis wat verwoestende globale veranderinge veroorsaak het.

Dit sluit volgens sommige wetenskaplikes belangrike evolusionêre veranderinge in. Dit bied belangrike bewyse van die aarde se geologiese geskiedenis en is noodsaaklik vir ons begrip oor die evolusie van die planeet. Ten spyte van die belang vir die planeet se geskiedenis, het geologiese aktiwiteite op die aarde gelei tot die verdwyning van die meeste ander impak-terreine. Vredefort is die enigste plek op aarde om ’n volledige geologiese profiel van ’n astroletsel onder die krater se oppervlak te bied.”

“Die Vredefortkoepel is die oudste, grootste en mees geërodeerde komplekse meteoriet impak-struktuur in die wêreld. Dit bevat kwaliteit en toeganklike geologiese terreine wat ’n verskeidenheid geologiese bewyse van ’n komplekse meteoriet impak-struktuur demonstreer. Die plattelandse en natuurlike landskap van die terrein help om die grootte van die ringvormige strukture wat na die impak ontstaan het uit te beeld. ’n Omvattende vergelykende analise met ander komplekse meteoriet impak-strukture, toon aan dat dit die enigste voorbeeld op aarde is wat ’n volledige geologiese profiel van ’n astroletsel onder ’n krater se oppervlak bied. Dit dra baie by tot navorsing oor die ontstaan en ontwikkeling van ’n astroletsel onmiddellik na impak."

Suid Afrika se 7de Wêrelderfenisgebied

Al hierdie geologiese wonders het die Vredefortkoepel ’n Nasionale Erfenisgebied en Suid-Afrika se 7de Wêrelderfenisgebied gemaak. Die kern van hierdie Wêrelderfenisgebied dek bykans 30 000 ha, met drie kleiner addisionele terreine van geologiese belang wat buite die middelpunt lê. Hierdie bykomende terreine is: die stromatoliet terrein, die “sjokolade-blokkie” breksie-perseel (harde rotse wat vanweë skok ontplof het) en die pseudotagiliet terrein. Die kern word omring deur ’n 5 km buffersone wat ’n totale oppervlakte van ongeveer 70 000 ha is.

Die UNESCO-Verklaring

UNESCO gee en UNESCO kan wegneem. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie het bepaalde voorwaardes waaraan voldoen moet word. Ek het die finale besluit hieronder aangehaal, aangesien dit interessant is om die Wêrelderfenis proses te bekyk.

“Dit beteken in wese dat die verskillende belanghebbendes wat verantwoordelik is vir die Koepel tot 2007 het om tot die daad oor te gaan. Ek is seker dat hulle dit sal doen, maar dit gaan nie so maklik wees nie. Eerstens val die Vredefortkoepel se kern area in sowel Noordwes as die Vrystaat, elk met sy eie toerisme-raad, begroting en beleid. Dit strek ook oor 5 verskillende distriksmunisipaliteite, meer as 100 private grondeienaars insluitend die nasionale regering. Daar is selfs twee verskillende bewaringsgebiede aan weerskante van die provinsiale grens en elkeen probeer om hulle onderskeie gebiede te bevorder en te bewaar.”

’n Teleurstelling

Hierdie fragmentering van die Vredefortkoepel maak kommunikasie moeilik en kompliseer die besluitnemingsproses aangesien almal hulle eie agendas en prioriteite het. Mens kan maar net vertrou dat die onderskeie belanghebbendes enige partydigheid opsy sal sit en met die plaaslike gemeenskap kan saamwerk om ’n verenigde bestuurskomitee te stig wat die projek ’n sukses kan maak.

Die bogenoemde UNESCO-komitee het die terrein weer aan die einde van April 2008 besoek. Ongelukkig was dinge nie heeltemal soos beplan nie. Die bestuurskomitee het uitmekaargegaan, belanghebbendes het oor ontwikkelingstrategieë verskil en die terrein is nie eens in terme van Suid-Afrika se erfeniswetgewing geproklameer nie. Dit was ’n bietjie van ’n teleurstelling.

Uitdagings om te oorkom

Daar was weliswaar baie uitdagings om te oorkom. Eensydige besluite is deur provinsiale owerhede wat ver van mekaar af sit, in Mafikeng en Bloemfontein, geneem. Daar was onenigheid oor waar die besoekersentrum geleë moet wees, Vredefort of Venterskroon. Swak munisipale instandhouding het veroorsaak dat rou riool in die Vaalrivier uitlek. Nuwe grondeienaars was teen die nasionale erfeniswetgewing gekant en daar was ’n algehele gebrek aan ’n gemeenskaplike siening en effektiewe leierskap.

Moet egter nie moed verloor nie. Alhoewel die verslag van die komitee nog nie vrygestel is nie, is daar ’n baie klein moontlikheid dat die Koepel se Wêrelderfenisstatus herroep sal word. UNESCO kan wel teen ’n paar mense optree, maar daar is min fisiese bedreigings teen die terrein. ’n Nuwe bestuurskomitee is aangestel en die administratiewe prosedures is verbeter. Mens kan net hoop dat die Vredefortkoepel van nou af van krag tot krag sal gaan.