Tradisionele Zulu Geboortes

© Dr Peter Magubane

Geen Mans Toegelaat

Geboorte onder die Zulu was nog altyd die besorgdheid van die vroue alleenlik, en geen man is toegelaat om by die geboorte teenwoordig te wees nie. Voedvroue is ouer vroue van die Umuzi wat verby hul vrugbare leeftyd is. Na babas gebore word, word hulle gewas in die umsamo ('n heilige gebied aan die agterkant van die woning) met water wat medisinaal met inte/EZI (spesiale medisyne) gemeng is, en dan is hulle ‘versterk’ deur die nakoming van rituele en die toepassing van medisyne.

Daarna, selfs vandag nog, word ma's en kinders geïsoleer totdat die naelstring afval. Gedurende hierdie tyd word die ma's beskou as onrein en potensieel skadelik vir die voorvaders in hul mans se huise. Hulle word nie toegelaat om aan gewone eetgerei te raak nie en moet kos wat voorberei is deur die voedvroue uit 'n spesiale bak met behulp van 'n spesiale lepel eet.

Die isolasie duur gewoonlik 5-10 dae, waarna die moeder 'gesuiwer' is: sy moet besprinkel word met intelezi voor sy haar normale lewe kan hervat. Die woning moet deeglik skoongemaak word, vars beesmis moet op die vloer versprei word en 'n vuur moet in die vuurherd aangesteek word.

Hierna kan die man ingaan en sy kind vir die eerste keer sien, hoewel migrerende vaders selde in staat is om huis toe te kom vir hierdie gebeure. Bier is gebrou om die geboorte te vier en om die voedvroue te bedank. Hierdie geleentheid word herhaal wanneer die pa vanaf die stad huistoe kom om sy kind te ontmoet.

Translated by Wilma Koeppen