Temperatuur in Suid-Afrika

©Peter Delaney

Die temperatuur wat ons voel rondom ons is sonenergie (die son se hitte) wat in die atmosfeer, die land en water opgeneem word. 

Temperatuur word beïnvloed deur verskeie faktore, soos die hoogte bo seevlak, afstand van die see en die breedtegraad, wat die posisie op die Noord-Suid-as (axis) van die planeet is.

Hoogte en Temperatuur

Hoogte, die hoogte bo seevlak, is 'n belangrike faktor wat lug temperature in Suid-Afrika bepaal. Dit oorheers ook ander invloede op temperatuur soos die breedtegraad. As 'n mens byvoorbeeld 'n oos-wes lyn langs dieselfde breedtegraad van Durban na die bo-punt van die Drakensberge trek, daal die gemiddelde lug temperatuur soos mens beweeg van die kus na die berge. Die gemiddelde temperatuur verskil naastens 11°C as gevolg van die hoogte van die berge.

Daarbenewens word die laagste temperature in Suid-Afrika nie beïnvloed deur die breedtegraad nie, maar eerder deur hoogte soos die koel temperature langs die hoogste berge in die land, Drakensberg, Maluti, Winterberg, Sneeuberg, Nuweveld, en die hoë berge van die Oos-Kaap en die Karoo, illustreer.

Die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo Provinsie, asook die Limpopo Rivier Vallei, is Suid-Afrika se belangrikste gebiede vir groenteproduksie. Hierdie gebiede is veral belangrik in die winter wanneer die temperature van die meeste ander gebiede in Suid-Afrika nie geskik is vir groenteproduksie nie. Die Laeveld en die noordelike deel van die Limpopo-provinsie is ook die land se vernaamste produksiegebiede van subtropiese vrugte en neute. Hierdie gebiede, veral die Laeveld, is op laer hoogtes as die ander binnelandse gebiede van Suid-Afrika, en is bekend as baie warm gebiede. 

Die belangrikste faktor is dat die gemiddelde daaglikse temperatuur in die winter in die noordelike dele van die Limpopo-provinsie, en veral die Laeveld, tot 6°C hoër is as in die Noord-Kaap en Noordwes gebiede - twee ander baie warm gebiede van Suid-Afrika. Die belangrikste is dat die minimum temperature hier in die winter tot 10°C warmer is as in die Noord-Kaap en Noordwestelike provinsies. 

Temperature en die Oseaan

Water het 'n veel hoër warmtekapasiteit as rotse en minerale. Dit beteken dat water langer as die aarde neem om warm te word of af te koel. Daarom het oseane 'n groot en gematigde invloed op die lug temperature van kusgebiede. 

In die somer (bv. Januarie) is dagtemperature langs die kus laer as dié in die binneland, behalwe in gebiede wat hoog gelëe is. In die winter (bv. Julie) is dagtemperature hoër in kusgebiede as in die binneland, behalwe die Laeveld, noordelike dele van die Limpopo-provinsie, die Limpopo-vallei en die middelveld areas noord van Pretoria.

Die koel Weskus areas, waar baie van die aartappels en ander gewasse onder besproeiing gekweek word, het 'n hoër wintertemperatuur as die binneland, behalwe die areas wat hierbo genoem word. Die weskus is onder die invloed van die koue Benguela stroom wat noordwaarts vloei van die poolgebied ver in die suide al langs die kus af. 

Die temperatuur, veral langs die KwaZulu-Natalse kus, word weer beïnvloed deur die warm Mosambiek stroom, 'n sytak van die Agulhas-stroom, wat suidwaarts vloei van die ewenaar af. Relatief hoë minimum temperature langs die ooskus laat toe dat daar 'n groot keuse van 'n wye verskeidenheid van gewasse groei.

Translated by Wilma Koeppen