Suid-Afrika se Nasionale Simbole

Nasionale Dier

©Nigel Dennis
Springbok (Antidocras marsupialis)

Die springbok se naam kom van die sierlike spronge wat hierdie boksoort gee as dit hardloop. Beide die rammetjies en ooitjies het horings, maar die rammetjie se horings is dikker en growwer. Die springbok word natuurlik in die Vrystaat, Noordwes-provinsie, Karoo en langs die Weskus van Suid-Afrika aangetref. Dit kom in droë, dorre gebiede sowel as op oop grasvlaktes voor. Die springbok is ’n gras- en blaarvreter. Springbokke kan sonder water klaarkom aangesien hulle genoeg vog van die sappige plante af inneem. As daar water beskikbaar is, sal hulle dit wel drink.

Springbokke is tropdiere wat gedurende die wintermaande in klein groepe rondbeweeg, maar in die somer in groot troppe voorkom. Die springbok paar die die hele jaar en die lammetjies word na ’n dratyd van ses maande gebore. ’n Springbok weeg gemiddeld 40 kg en is omtrent 75 cm hoog.

Nasionale Voël

©Peter Delaney
Bloukraanvoël (Anthropoides paradisia)

Die elegante bloukraanvoël word omtrent net in Suid-Afrika aangetref. Dit is ’n ligte blougrys kleur met ’n lang nek wat in ’n bolvormige kop eindig. Die bloukraanvoël is omtrent een meter hoog, het lang bene en elegante vlerkpluime wat tot op die grond sleep. Bloukraanvoëls eet insekte, reptiele en sade. Hulle lê hul eiers sommer net so in die ooptes naby water.

Bloukraanvoëls kom gewoonlik in die Karoo, KwaZulu-Natal en die Hoëveld in oop grasvelde of plat karoo vlaktes voor. Hulle word dikwels in pare of klein familiegroepe gesien. Die bloukraanvoël is gewoonlik stil, maar het ’n kenmerkende krasgeluid en die luide roep kan van ver af gehoor word.

Nasionale Vis

©Jean Tresfon
Galjoen (Coracinus capensis)

Die galjoen is endemies aan Suid-Afrika se kuswaters. Dit kom hoofsaaklik in die vlak water waar die branders breek voor. Die galjoen se kleur hang van sy habitat af, naby rotse lyk dit heeltemal swart, maar in sanderige areas is dit ’n silwerbrons kleur. In KwaZulu-Natal is die galjoen ook as blackfish of black bream bekend.

Galjoen eet rooiaas (bekerdiere) en kleiner skulpdiere soos mossels en eendmossels.

Nasionale Blom

©Nigel Dennis
Koningsprotea (Protea cynnaroides)

Die koningsprotea kan regdeur die Wes-en Oos-Kaap gebiede, basies vanaf die Sederberge tot by Grahamstad, gevind word. Die Latynse naam vir hierdie protea kom van die woord cynnaroides wat “soos cynara” (die artisjok) beteken en dit verwys na die artisjok-agtige blomkoppe. Die koningsprotea is die grootste protea van hierdie genus.

Nasionale Boom

©Nigel Dennis
Egte Geelhout (Podocarpus latifolius)

Die antieke geelhout spesie groei al vir meer as een miljoen jaar in Suid-Afrika. Dit is wydverspreid regdeur Suid-Afrika en kan vanaf Tafelberg, langs die oostelike en suidelike Kaapse kusgebiede en in die bergklowe van die Drakensberge op tot in die Soutpansberg en Blouberg van die Limpopo Provinsie aangetref word.

Geelhoutbome is groot en in woude bereik dit hoogtes van tot 40 meter met ’n dik basis van tot drie meter in deursnee. As dit egter in onbeskermde gebiede soos teen die hange van Tafelberg groei lyk dit kort en bosagtig. Die bas is kakiekleurig, maar word meer grys soos die boom verouder en skeur met verloop van tyd in stroke af. Die boom se kroon is klein in vergelyking met sy hoogte. Die vrugte lyk amper soos ’n dennebol, maar is wit, liggroen of soms pienk. Die geelhoutboom produseer beide manlike en vroulike vrugte. Die vroulike vrug het amper dieselfde vorm en kleur as ’n kersie.

Translated by Ananda Schoeman