Spanspek Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Spanspek plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Spanspeksaad word direk in die land of in saadkassies gesaai. Die saailinge word dan later in die produksie area uitgeplant.

Spasiëring

Die spanspek plante word 50 - 75 cm uitmekaar in rye wat 100 - 200 cm van mekaar af is geplant. Dit is ongeveer 4000 tot 6000 plante per hektaar. Daar moet ingangspaaie vir die plaasimplemente en trekkers, wat tydens oestyd en vir besproeiing gebruik word, gelos word.

Saaityd

In Suid-Afrika word spanspeksaad vanaf laat Augustus tot November gesaai. Die saad kan vanaf vroeg Julie in saadkassies in kweekhuise gesaai word. Die saailinge sal dan teen omtrent middel Augustus, sodra dit warmer begin word, reg wees om uit te plant.

Planttyd

Aangesien spanspek ’n warmklimaat gewas is word aanplantings vanaf vroeg September tot middel Desember gedoen. In warmer gebiede, waar die warmer lenteweer vroeg begin, kan spanspek reeds vanaf middel Augustus af aangeplant word.

Groeiperiode

Die groeiperiode is, vanaf saad to produksie, in warm gebiede gewoonlik vanaf 12 weke en in gebiede waar die warm lenteweer eers later begin vanaf 15 weke.

Bemesting

Dit is raadsaam om ’n grondanalise te doen en die voedingstowwe daarvolgens aan te pas. ’n Goeie bemestingsprogram soos volg word aanbeveel. Die kompos, kalk en mis moet vier tot ses weke voor planttyd ingeploeg word. Voor die saailinge uitgeplant word moet 750 - 1000 kg 2:3:4 (27) per hektaar in die boonste 20 cm grond met ’n skotteleg ingeploeg word. Om goeie groei en vrug ontwikkeling aan te help moet daar vier tot ses weke nadat die saailinge geplant is ’n verdere 300 - 500 kg 2:3:4 (27) per hektaar toegedien word. Die groei en vrugte moet gemonitor word en indien nodig moet ’n derde applikasie van 350 kg kaliumnitraat per hektaar toegedien word. As die plante tydens hierdie stadium goed groei dien kaliumchloried in plaas van die kaliumnitraat toe. Gedurende hierdie laat stadium is dit belangriker om vir vrug kwaliteit in plaas van vegetatiewe groei te bemes. Onthou om na elke toediening die grond deeglik nat te maak.

Besproeiing

Maak die grond voor en na die aanplanting van die saad of saailinge nat. Dit help om die saailinge se stres gedurende aanplanting te verminder. Indien moontlik kan grondvogmeters geïnstalleer word. Andersins moet die grond naby die wortelsone minstens twee keer per week met ’n graaf nagegaan word. ’n Goeie gemiddelde besproeiing is 25 - 35 mm per week. Afhangende van die tipe grond kan dit in 2 tot 3 besproeiings per week verdeel word.

Translated by Ananda Schoeman