Robbeneiland se Historiese Betekenis

In die 1700’s

©Roger de la Harpe
Robbeneiland het ’n groter historiese betekenis vir Suid Afrika as net die bekende plek waar Nelson Mandela byna 30 jaar van sy lewe deurgebring het. Dit is vir die eerste keer gebruik as ’n natuurlike verversingspos waar matrose gratis robbe en pikkewyneiers kon kry. Skape en konyne is ingevoer toe die robbe en pikkewyne se getalle gedaal het. Gedurende hierdie tyd is matrose wat misdade aan boord van hulle skepe gepleeg het op die eiland afgelaai om hier te lewe of te sterf.
Die eiland, net buite Kaapstad se kuslyn, het in die 1700’s die land se eerste politieke gevangenis geword toe Moslem-teenstanders van die Nederlandse heerskappy in Indonesië daarheen gestuur is. Tydens die Oos-Kaapse Grensoorloë in die 1800’s is Xhosa-leiers, insluitend die profeet Makana, deur die Europese kolonialiste daarheen gestuur. Later het dit ’n melaatse kolonie en geesteshospitaal geword. Daarna was dit ’n Tweede Wêreldoorlog-fort voor dit in die berugte apartheid era in ’n politieke gevangenis verander is. Dit het byna ’n dobbeloord geword, maar gelukkig is die eiland nou ’n kulturele besienswaardigheid en natuurreservaat.

Translated by Ananda Schoeman