Probleme met Bokke op Weiding

© Chris Daly

Bokke wat Opblaas

As bokke nog nie voorheen op weiding geloop het nie moet hulle geleidelik daaraan gewoond gemaak word - hulle moet slegs 30 minute wei op die eerste dag. Daarna kan die weiding met 30 minute elke dag verleng word. Dit sal verhoed dat hulle opblaas weens die skielike verandering in hul dieet. Bokke blaas op omdat gas vasgekeer word in die rumen en dis waarneembaar aan ‘n geweldige geswelde linkerflank. Dis ‘n lewensbedreigende kondisie. Opblaas weens te veel graan (droog) kan behandel word deur ‘n maagbuis (in noodgevalle), voorgeskrewe medisyne vir opblaas weens droë graan, of Melk van Magnesia. Laat stap die bok ‘n bietjie en voer hom droë, growwe hooi.
Skuimerige opblaas word gewoonlik veroorsaak deur ooreet aan geil, klam voer soos klawer, lusern of peulgewasweiding. Dis onmoontlik vir die bok om self van die klein borreltjies gas ontslae te raak. Om dit te behandel, stel Dr Mackie Hobson van South African Mohair Growers’ Association een van die volgende voor:
Doseer met sonneblomolie (20 tot 100ml) per mond of per buis. Behandel met Bloat Guard® om die skuim op te breek. Dit sal help om die gas vry te stel en dit verhoog die oppervlaktespanning van die rumenvloeistof.
Die oor-die-toonbank dosis is ongeveer 10ml vir bokke. (Vir ‘n bees wat 200kg weeg is die dosis 30ml Bloat Guard®. Dit mag ook help om die bok se voorbene op te lig na behandeling met Bloat Guard®.

Giftige Plante vir Bokke

©Dr Mackie Hobson
Ondersoek weiding vir giftige plante soos die gewone taksisboom (Taxus baccata) of die blare van enige steenvrugteboom (kersie, perske, pruim) wat dodelik is, selfs in klein hoeveelhede. Tulpe (moraea, iridaceae, tulip) en Drimia (Hyacinthaceae of slangkop) verskyn voor die reën en mag die enigste groenigheid beskikbaar wees. Ander giftige plante (hoewel nie dikwels op aangeplante weiding aangetref nie) sluit in die duwweltjie (tribulus terrestris), selonsroos, gifblaar, en die vetplant, ‘plakkie’.

Parasiete in Bokke

‘n Rotasie weidingstelsel is die beste manier om jou weiding optimaal te benut en jou bokke gesond te hou. Jy sal dus genoeg weiding nodig hê om gedeeltes te laat rus. Deur ‘n stuk weiding te laat rus (vir minstens ‘n maand) laat jy die gras toe om terug te groei tot sy ideale hoogte – 10cm en hoër – voordat dit weer bewei word. Dit voorkom ook dat jou gond uitgetrap word en help voorkom dat jou vee herbesmet word met interne parasiete.
Dis belangrik om te begryp dat bokke op aangeplante weidings meer kwesbaar sal wees vir besmetting deur interne parasiete en dat die medisyne daarvoor ‘n ongewenste uitwerking op die melk mag hê. Soos bokke wei, skei hulle parasieteiers en larwes op die grond uit. Die meeste daarvan leef laer as 10cm. Deur jou bokke te roteer weg van ‘n weikamp af wat laer as 10cm bewei is, help jy om die bokke se blootstelling aan parasiete te minimaliseer.
Interne parasiete val in drie hoofgroepe:
Rondewurms-waarvan draadwurm die algemeenste en skadelikste is
Lintwurms
Lewerslak – ‘n parasitiese platwurm
Rondewurms is verreweg die algemeenste interne parasiet by ‘n bok, en die meeste leef in die maag en dermkanaal, maar ook in die lugweg. Simptome van besmetting is tekens van diarree en gewigsverlies.
Lintwurms kan gesien word as plat segmente in die mis van bokke, maar veroorsaak nie veel skade aan bokke nie.
Die lewerslak veroorsaak lewerskade en simptome van besmetting is diarree, ‘n geswelde keelvel en bloedarmoede. Hou bokke weg van modderige areas. Simptome van interne parasietbesmetting sluit in bleekheid rondom die oë, gewigsverlies, verlies aan energie en aptyt. Die bok mag diarree hê, hoes, growwe hare en verminderde melkproduksie hê.
Die behandeling van interne parasiete vereis strategiese en praktiese ontwurming. ‘n Boer moet die probleem diagnoseer en met sy veearts konsulteer vir advies. Neem monsters van die mis van twee groot bokke en twee lammers sodat die veearts ‘n eiertelling kan doen om daardeur die spesifieke besmetting te bepaal.

Translated by Elna Van Rhyn