Ontdek Robbeneiland

Die Dorp

©David Fleminger
Vandag is daar 150 permanente inwoners in die dorp. Dit is museum personeel, gevangenis gidse, werknemers van die Nasionale Hawe-owerheid, ligtoring beamptes, personeel van die Nasionale Departement van Publieke Werke en ’n paar jare lange inwoners. Dit is ’n klein en geïsoleerde gemeenskap, maar dit is betowerend. Die kinders loop vryelik na mekaar se huise, die deure word oop gelos en tyd is nie belangrik nie, amper soos in Kanada.

Daar is ongeveer 100 huise op die eiland wat aan weerskante van die hoofpad geleë is. Elke huis het ’n stowwerige tuin en ’n houtvat vir die opvang van reënwater. Net 40 van die huise is tans bewoon, wat die eiland nogal spookagtig maak snags. Charlé, die posmeesteres, vertel dat sy 2000 briewe per maand hanteer en dat die eiland se poskantoor toekennings vir doeltreffendheid gewen het. Die Anglikaanse Kerk met sy torings, nou Nederlandse Hervormde Kerk, hou nog twee keer per maand kerkdienste.

Die kern van die dorp is die Ledewinkel of te wel gemeenskapswinkel. Hier kry die inwoners hulle voorrade en die kinders maak die winkelier mal deur voortdurend vir gratis lekkergoed te vra. Die breë stoep van die winkel funksioneer ook as ’n ontmoetingsplek met twee plastiek tafels wat regstaan vir ’n laatmiddag kuier.

Langs die winkel is ’n speelgrond en ’n misplaaste miniatuur-gholfbaan (Putt-Putt). Dit is vir die tronkbewaarders se vermaak gebou en is nog steeds in ’n goeie toestand.

Spoggerige Geboue

©David Fleminger
Agter ’n hoë muur is ’n groot swembad waar die kinders gewoonlik hulle agtermiddae deurbring, bakkende in die son op die warm beton of besig om mekaar in die water te stamp. Die dorp het ook ’n rugbyveld en ’n surrealistiese krieketveld, wat oorspronklik deur die Britte gebou is (wie anders...).

Die eiland het ’n kleuterskool en laerskool met 23 kinders en 2 onderwysers. Daar is geen hoërskool nie, so die ouer kinders moet óf in ’n koshuis in Kaapstad gaan bly óf die personeel se daaglikse veerboot na die vasteland neem. Dit kan egter moeilik wees en daar is een storie van ’n matriekleerling wat nie by sy finale eksamen kon kom nie omdat die see te rof was. Klaarblyklik het die Lugmag ’n helikopter gestuur om hom te kry!

Aan die suidelike kant van die dorp, regoor die mistige strand van Bloubergstrand, is die goewerneur se huis en die pastorie. Hierdie relatief spoggerige geboue dateer uit die Victoriaanse era en is tans die konferensiesentrum en gastehuis wat slegs oop is vir genooide gaste.

Asemrowende Uitsigte

©Roger de la Harpe
Net verby die dorp draai die pad regs en loop aan die suidelike kant van die eiland reg langs die kuslyn verby. Die uitsig is asemrowend. Oorkant die kanaal pryk Tafelberg, Duiwelspiek en Leeukop met prehistoriese krag wat die eiland oorheers. Soos jy rondry sal die gids Van Riebeeck se ou kalksteengroef, verskeie Tweede Wêreldoorlog kanonstellings, die gesloopte militêre kaserne, Tweede Wêreldoorlog wagtorings en ’n onlangse skeepswrak (die Fong Chung No. 11, wat in 1975 skipbreuk gely het) uitwys.

Ongelukkig draai die bus nou van die sirkelroete af en ry met die effense opdraande na Minto-heuwel waar die ligtoring is. Wildsbokke kan gewoonlik in die gras aan die voet van die heuwel gesien word en daar is ’n digte bloekomboom plantasie. Op die kruin van die heuwel staan die ligtoring. Dit is in 1865 gebou, het ’n uitreik van 24 seemyl en ’n 1.5 kW lamp. Die ligtoring het ’n okkulterende lig, wat beteken dat die lig elke sewe sekondes een flits gee wat vyf sekondes lank duur. Dit is die moderne weergawe van die seinvure wat die Hollanders meer as 300 jaar gelede op hierdie selfde plek aangesteek het. ’n Radarstasie, die De Waal-battery en ’n water ontsoutingsaanleg, wat die eiland van vars water voorsien, is naby die ligtoring geleë.

Die bus ry verder en oor die heuwel, verby die eens beplande gholfbaan en terug na die dorp toe. Aan die bokant van die dorp, net-net sigbaar vanaf die pad, is ’n tweede begraafplaas. Hier lê die grafte van die offisiere en dokters wat by die Algemene Hospitaal gewerk het. Sodra jy terug is in die dorp, draai die bus links op pad terug na die maksimum-sekuriteit gevangenis.

Translated by Ananda Schoeman