Dit is die enigste wapen van enige van die nege provinsies van Suid-Afrika wat duidelik op die kleure en in ’n sekere mate die vorm van die Nasionale Vlag, wat op 27 April 1994 in gebruik geneem is, gebaseer is. Die Noordwes-provinsie was ’n nuwe skepping toe die ou onafhanklike tuislande na die eerste demokratiese verkiesings in 1994 weer in Suid-Afrika opgeneem is.
Die Noordwes provinsiale wapen het ’n groen basis met die leuse Kagiso le Tswelelopele wat “Vrede en Welvaart” beteken. Bo die groen basis is ’n skild wat in kwarte verdeel is met rooi bo en onder en blou links en regs. In die middel is ’n groen diagonale kruis wat met wit omraam is. Op die kruis is ’n groen skuins vierkant met ’n kalbas water in die middel.
Die kalbas verteenwoordig die Tswana kultuur wie se stamgrond die basis van Bophuthatswana en Noordwes gevorm het. Die skilddraers is twee swartwitpense. Bo-op die skild is ’n silwer omringde sirkel met ’n sonneblom bo-op silwer buffelhorings. Die sonneblom verteenwoordig die streek se landbou waar dit kommersieel geproduseer word. Dit simboliseer ook die sonskyn wat nodig is om gewasse te laat groei.
Die swartwitpens is oorwegend ’n grasvreter, maar dit sal soms blare eet. Swartwitpense kom in troppe voor en daar is gewoonlik ’n matriarg. Die swart en wit strepe op die gesig dui aggressie aan, veral waar dit hulle kalwers betref. Gedurende die paarseisoen sal die sterker bulle die jonger bulle uit die trop jaag.
Die gevegte is dikwels fataal. Swartwitpensbulle toon aggressie deur die horings teen bome te skuur. Die groot riwwe op die horings maak ’n rasperagtige geraas. Dratyd is ongeveer nege maande en die kalwers word tussen Februarie en Maart gebore. Op ses maande word die kalwers gespeen.