Metaboliese Siektes in Melkkoeie

© Dr Jan du Preez

Metaboliese siektes in melkkoeie is nie aansteeklik nie en is gewoonlik die gevolg van swak voedingsbestuur. Dit is geneig om rondom kalwing voor te kom.

Melkkoors Simptome in Melkkoeie

©Dr Jan du Preez
Melkkoors kom gewoonlik rondom kalwing of 3 - 4 dae daarna voor by ouer, hoër produserende melkkoeie. Dit is kom meer algemeen voor by Jerseys as by ander melkbeesrasse.
Melkkoors word veroorsaak deur ‘n skielike afname in die kalsium (Ca) vlakke in die bloed van koeie. Gedurende die droë periode is die Ca-behoeftes van melkkoeie laag. By kalwing en kort daarna, neem die Ca-behoeftes van koeie vinnig toe weens die produksie van kolostrum en die toename in melkproduksie. Direk na kalf is die voerinname van koeie laag en neem stadiger toe as die toename in melkproduksie. As gevolg hiervan word die Ca-behoeftes aangevul vanuit die skelet. Wanneer hierdie proses vertraag word, ontwikkel hipokalsemie (melkkoors).
In Engels is dit bekend as “downer cow syndrome” omdat koeie spierkoordinasie verloor, wat veroorsaak dat hulle gaan lê. Hierna kan verlamming en bewusteloosheid intree.
Daar is drie verskillende stadiums van melkkoors:
Aan die begin toon die geaffekteerde koei tekens van hipersensitiwiteit, senuweeagtigheid, ore wat bewe, waarna die koei gaan lê.
In die tweede stadium lê koeie in die sternumposisie (regop) met die kop teruggevou op die sy.
In die derde stadium lê die koei in ‘n laterale posisie (op die sy) en toon geen reaksie op stimuli nie. Die koei raak dan bewusteloos waarna die dood intree.
Vroeë behandeling is ‘n binne-aarse Ca-inspuiting. Voorkomende aksies is hoofsaaklik gerig op die voerprogram gedurende die droë periode, veral die laaste drie weke voor kalwing.

Opblaas in Melkkoeie

Opblaas word veroorsaak deur ‘n oormatige opbou van gas in die rumen van koeie. Gewoonlik word winde opgebreek en die gas vrygestel terwyl koeie herkou. Opblaas kom dikwels voor wanneer koeie op jong peulgewasweidings soos klawer en lusern, in die lente wei. Honger koeie wat hulself oorvreet op jong weidings is gewoonlik meer vatbaar vir opblaas. Koeie is ook geneig om op te blaas op oggende wanneer die weiding natgedou is of op bewolkte en winderige dae.

Opblaas kan beperk word deur hooi of kuilvoer te voer aan koeie net voordat hulle op die weiding gaan. Alternatiewelik moet koeie net vir ‘n kort periode toegang kry tot die weiding, byvoorbeeld 1 - 2 ure op ‘n keer. Koeie kan ook na melking gedoseer word met ‘n geskikte kommersiële teen-opblaas middel. Dit is ‘n algemene metode in die weidingstelsels van Nieu Seeland. Alternatiewelik kan meer ruvoer in die dieet ingesluit word.
Wanneer koeie opgeblaas en baie ongemaklik is, moet die gas vrygestel word met ‘n trokar (‘n spesiale drie-kantige naald) of ‘n melkkoorsnaald met ‘n groot opening. Die koei moet gesteek word op haar linkersy sowat ‘n oop hand breedte agter die laaste ribbeen en ‘n soortgelyke afstand van die punte van die kort ribbes. ‘n Veearts moet die sny toewerk en antibiotika-behandeling toepas om verdere komplikasies te voorkom.

Asedose

Asedose by melkkoeie word veroorsaak wanneer hulle rantsoene inneem wat lae vlakke van aktiewe vesel (ruvoer) en hoë vlakke van vinnig verteerbare koolhidrate soos mielies, koring of gars bevat. Simptome van asidose sluit in: verlaagde voerinname, diarree kan voorkom, koeie vertoon lusteloos, kondisie neem af met 'n gewigsverlies.
Die suurvlakke van die rumenvloeistof varieer gedurende ‘n normale 24-uur periode. Asedose kom voor wanneer die suurvlakke hoog is, dit is by pH-vlakke laer as 5.5. Dit vind plaas wanneer die dieet hoë vlakke van vinnig-verteerbare koolhidrate (in kragvoere) en ‘n tekort aan fisiese aktiewe vesel of ruvoer bevat. As gevolg hiervan is die herkou-aksie van koeie minder. Dit lei weer tot ‘n vermindering in die natuurlike buffer-aksie in die rumen. Wanneer koeie herkou, word die rumen op natuurlik wyse gebuffer deur die speeksel wat afgeskei word.

Om asedose te voorkom moet die hoeveelheid kragvoer in die dieet beperk word en ruvoere hoog in lang-veselvlakke gevoer word. Lang veselstukke in die dieet verbeter die herkou-aksie van koeie nadat hulle gevreet het. Om die hoë suurvlakke in die rumenvloeistof te verminder kan ‘n kommersiële buffer soos natrium-bikarbonaat (koeksoda) ook in die dieet ingesluit word. Dit is veral nodig wanneer groot hoeveelhede kragvoer in die dieet voorsien word.

By Dr Carel Muller