Meerkat

© Nigel Dennis

Naam

Meerkat of Stokstertmeerkat (Suricata suricatta)

Voorkoms

Die Afrikaanse naam meerkat verwys na die geel muishond of die stokstertmeerkat en is afgelei van die Hollandse term wat ’n dieet van miere aandui. Die meerkat word meer dikwels gesien waar dit op sy agterpote en stert staan en die omgewing bespied. Die meerkat is geelbruin met rye rooibruin kolle langs die rug.

Die oë is opmerklik donker omring. Die kop en lyf is 250 – 310 mm lank en die stert is 200 – 240 mm. ’n Volwasse meerkat weeg omtrent 620 – 960 gram. Hulle het donker gepunte, korthaar sterte. Die agterlyf is korter as die voorlyf. Die kop is breed en afgerond met 'n skerp gesig.

Dieet

Die meerkat eet insekte, klein knaagdiere, geitjies en slange wat hulle met ’n blitsige spoed vang. Wyfies soek meer intensief kos as die ander lede van die groep om die verhoogde energieverbruik wat verband hou met laktasie te hanteer. Daar is geen verskille tussen die diëte van die verskillende geslagte of ouderdomsgroepe nie.

Voortplanting

Volwasse wyfies beoefen ’n seisoenale paring orde wat onder andere nie toelaat dat meer as een wyfie op dieselfde tyd binne dieselfde groep kleintjies kry nie. Die wyfies kan tussen een en drie werpsels per jaar kry, maar paringstyd is van die reënval afhanklik.

Die meeste geboortes is tussen Januarie en Maart. Die hele groep sien na die kleintjies se welstand om. As die groep uitgaan om kos te soek bly een agter om na die kleintjies om te sien.

Sosiale Gedrag

Meerkatte is normaalweg territoriaal. ’n Gemiddelde groep bestaan uit tien meerkatte en daar is ewe veel mannetjies as wyfies. Hulle is bedags aktief en soek skuiling in gate snags of wanneer dit bedreig word.

Verspreiding

Endemies aan die substreek. In Suid Afrika het die meerkat ’n westelike verspreiding, van die Noordwes Provinsie suidwaarts na die Vrystaat deur die Karoo tot amper in Kaapstad en weswaarts na die Atlantiese kus.