Manna Verbouing

Manna word meestal in Suid-Afrika op bestaansvlak verbou. Dit is maklik om aan die groei te kry en minder vatbaar vir plae en siektes as sorghum, mielies of ander grane. Die baie klein saadjies kan vanaf Oktober tot November gesaai word en as die kondisies ideaal is, sal dit binne vyf dae ontkiem.
Manna se wortels groei baie diep en kan tot dieper strek as enige vorige plante. Navorsing, in die suidoostelike dele van Amerika, het bewys dat manna die voedingstowwe wat onder die wortelsones van die vorige gewasse opgebou het kan bereik en opneem.
Ten spyte van manna se droogtebestandheid het dit reënval tydens die groeiperiode nodig. Gedurende die blomseisoen is dit egter sensitief vir te veel water. Dit gedy in los grond met ’n lae pH van 4.5 – 5.5. Dit groei ook goed in grond met ’n hoë aluminium inhoud, maar verdra glad nie nat kleigrond nie. Dit reageer goed op kunsmis en kan met peulgewasse afgewissel word. Peulgewasse soos dopboontjies sit stikstof terug in die grond.

Opbrengs

Die honderde blomme word aan ’n silindriese aar, wat 15 – 140 cm lank kan word, gedra. Omtrent 40 dae na ontkieming kan die sade geoes word. Onder die ideale omstandighede kan daar ’n opbrengs van 3 – 4 ton per hektaar wees. Indien vog en die grondvrugbaarheid nie goed is nie sal daar slegs ’n opbrengs van 300 – 800 kg per hektaar wees. Navorsing in Florida (Amerika) het bewys dat daar ’n groter opbrengs, omtrent 5.5 ton per hektaar, met ’n kleiner ryspasiëring van omtrent 13 cm verkry word. Daarteenoor het ’n spasiëring van 76 cm slegs ’n opbrengs van 3.7 ton per hektaar voortgebring.
Normaalweg het manna nie insekdoders nodig nie, maar goeie onkruidbeheer is noodsaaklik. Manna kry nie baie siektes nie maar die belangrikste siektes is skimmel, saadverrotting en roes. Om siektes te voorkom word gewasrotasie aanbeveel. Dit voorkom die opbou van skadelike bakterieë. Ryp manna is gewild onder voëls en die gewas moet gereeld gemonitor word om sodra die saad ryp is dit te oes.

Oes

Manna word omtrent 40 dae na die blomtyd, as die voginhoud omtrent 15% is, geoes. Manna word met die hand (met ’n mes of sekel) of meganies geoes. Sodra die koppe uitkom kan daar vir kuilvoer-gebruik meganies geoes word. Oes-implemente moet so gestel word dat dit die saad ordentlik kan skei aangesien swak manna ’n laer voedingswaarde het. Die saadkoppe word na die oes op die grond uitgesprei om droog te word. As die graan nie heeltemal gedroog word nie kan skimmel en saad uitloping voorkom. Dit is moeilik om manna te prosesseer. Die graan moet ontdop word voordat dit gemaal kan word. Dit word tradisioneel met die hand gedoen en lewer ’n opbrengs van slegs 75% meel.

Translated by Ananda Schoeman