Mandela en die 1994 Verkiesings deur Raymond Louw

© Eric Miller

Deel ’n Gemeenskaplike Lot

Almal noem die 1994 algemene verkiesing wat Suid-Afrika van ’n diep rassistiese outoritêre samelewing tot ’n nie-rassige demokrasie verander het, 'n wonderwerk. Dae voor die verkiesing het fanatiese lede van die militêre neo-Nazi AWB, die Afrikaner Weerstandsbeweging, 'n orgie van bomme geloods wat talle mense beseer en doodgemaak het. Dit was ’n desperate poging om die verkiesing uit te stel, omdat hulle die verkiesing gesien het as die einde van hul bevoorregte lewenstyl, miskien selfs hul uitwissing as ’n volk. Mandela en die regering het geweier om geïntimideer te word en die verkiesing het voortgegaan.
Maar die moorddadige, offensiewe aksie het aansienlike verlies aan lewe en die vernietiging van eiendom veroorsaak. Die verkiesing het plaasgevind in ’n aura van ongekende welwillendheid en samewerking tussen die rasse. Niks soos dit was voorheen in Suid-Afrika gesien nie. Dit was amper asof blankes en swartes hulself vir die eerste keer ontdek het as mense wat ’n gemeenskaplike lot deel. Dit het voorgekom asof die meester- en dienskneg verhouding wat beide rasse eeue lank al terneer gedruk het, verdwyn het asof dit nog nooit daar was nie.

30 Jaar Vroeër

Ten spyte van die grootheid van die geleentheid, sou president Mandela nie mens gewees het as hy nie sy gedagtes terug laat gaan het na April 1964 - byna presies 30 jaar vroeër – toe hy in die hof gestaan het om sy verdediging te gee vir sy aanklagte van sabotasie, gedurende wat later bekend geword het as die Rivonia-verhoor.

Dit was die tyd toe hy in ’n stil hofverhoor vir vier ure ’n verklaring gelees het met die volle wete dat sabotasie ’n hoofoortreding was en dat dit wat hy gesê het moontlik ’n lus rondom sy en sy kollegas se nekke kon plaas. Hy het sy verdediging só geëindig: "Ek het teen wit oorheersing geveg en ek het teen swart oorheersing geveg. Ek het die ideaal van ’n demokratiese en vrye samelewing waarin alle mense in harmonie en gelyke geleenthede saamleef, gekoester. Dit is ’n ideaal waarvoor ek hoop om te leef en te sien realiseer. Maar, my Heer, as dit nodig is, is dit ’n ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf. "

Translated by Nina Joubert