Kopkool Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Kopkool plant voort met die saai van saad.

Hoe om te plant

Kopkool kan direk gesaai word of saailinge kan uitgeplant word. Die grond moet skoongemaak word en ongeveer ’n maand voor die planttyd 450 - 600 mm diep geploeg word. Om aalwurms te voorkom moet die grond op hierdie stadium berook word. Ongeveer 50% van die benodigde voedingstowwe moet ook voor planttyd toegedien en ingeploeg.

Spasiëring

Vir groot koolkop variëteite moet die plante 400 mm uitmekaar, in rye wat 700 mm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer 40 000 tot 50 000 plante per hektaar. Vir medium koolkop variëteite moet die plante 300 mm uitmekaar, in rye wat 500 mm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer 60 000 tot 65 000 plante per hektaar.

Saaityd

Saai die saad binnenshuis (kweekhuis) in saadkassies enige tyd van die jaar.

Planttyd

Die uitplant van saailinge vind ongeveer 30 dae na saai plaas wanneer die saailinge ongeveer 100mm lank is. Kopkool kan dwarsdeur die jaar in Suid Afrika geplant word, behalwe in gebiede met intense koue of hitte tydperke.

Groeiperiode

100 – 120 dae vanaf planttyd

Bemesting

’n Grondanalise moet gedoen word om die nodige voedingstowwe te bepaal. Kopkool vereis baie voedingstowwe en die kombinasie van normale kunsmis en / of kompos sal goeie resultate lewer. Organiese bemesting kan ook gebruik word. ’n Algemene aanbeveling is om voor planttyd ’n minimum van ’n 1000 kg 2: 3: 4 (27) in te ploeg. Daarna kan stikstof toegedien word. Bemestingsprogram: twee weke na planttyd - 250 kg KAN per hektaar, vier weke na planttyd - 350 KAN per hektaar en ses weke na planttyd: - 500 kg KAN per hektaar.

Besproeiing

Besproei saailinge een keer per dag gedurende die koeler maande en twee keer per dag gedurende die warm maande totdat dit gereed is om uit te plant. Besproei die area sodat saailinge in klam grond geplant kan word. Sodra kopkool geplant is spuit dit onmiddellik nat sodat die plante in die nuwe omgewing gevestig kan word. Spuit daarna tussen 30 en 40mm water per week afhangende van die temperatuur en grondtipe.

Translated by Ananda Schoeman