Konynteelt

© Judy Stuart

Basiese Reëls om met Konyne te Teel

Gebruik altyd die heel beste kwaliteit diere wat jy kan bekostig. Daar is spesifieke rasse vir spesifieke produkte of doeleindes geteel. Hoe nader jou diere is aan die rasstandaarde vir daardie ras, hoe beter is jou kans om ‘n topproduk te produseer.
Koop altyd jou aanvangsdiere by ‘n betroubare teler wat inligting kan verskaf oor die ras wat jy aankoop. Dit sluit in die geboortedatums en voorouers van elke dier.
Moenie rasse kruis nie. Eenvormigheid van produk is wat help om teeldoelwitte te bereik en gekruiste diere kan dit nie doen nie. Die teler het dan geen idee van wat tevoorskyn mag kom nie. Indien kruisteelt toegepas word om basterkrag te verkry binne een generasie, moet hierdie generasie as ‘terminaal’ beskou word en nie vir enige verdere teeldoeleindes aangewend word nie.
Slegs wanneer ‘n ervare teler besluit om rasse te laat kruis (om bv. ‘n nuwe kleur te produseer of ‘n ras vir die eerste keer te satinise) en weet dat alles voortspruitend uit hierdie eksperiment van kant gemaak moet word, is kruising aanvaarbaar.
Beide die mannetjies en die wyfies moet in puik kondisie wees wanneer paring plaasvind. ‘n Konyn wat besig is om te verhaar of in ‘n swak kondisie is, moenie toegelaat word om te paar voordat hy/sy ten volle kondisie herwin het nie. Beide mannetjies en wyfies moet oud en swaar genoeg wees volgens die ras.
Die minimum ouderdom vir miniatuurrasse is 5 tot 6 maande vir mannetjies en wyfies. Vir mediumgrootte of reuse rasse moet mannetjies minstens 6 - 8 maande oud wees. Indien jy met die baie groot rasse teel, moet jy deeglik let op die gewig van die wyfie. Sy kan en behoort te teel sodra sy volwasse gewig bereik. (Ken dus die rasstandaard van die ras wat jy gekies het ten opsigte van gewig). Groot rasse ontwikkel probleme met konsepsie as hulle te oud of te vet word voordat hulle teel.
Moet nooit teel met ‘n aggressiewe dier nie. Hierdie slegte eienskap kan oorgedra word na die volgende geslagte en konyne kan erg byt en krap. Aggressiewe vroulike diere maak selde goeie moeders.

Translated by Elna Van Rhyn