Invoer en Uitvoer van Bokvleis

© Gerrit dos Santos
Vir bokke wat lewendig ingevoer word na Suid-Afrika is uitvoerpermitte vir lewendehawe van die aangrensende lande noodsaaklik en bokke moet ook voldoen aan die sanitêre maatreëls van Suid-Afrika. Vir die uitvoer van lewendige bokke uit Suid-Afrika is invoerpermitte van die land waarheen die bokke gaan, noodsaaklik.

Invoer van Lewendige Bokke na Suid-Afrika

Volgens uitvoersyfers van die Vleisraad van Namibië (Nammic) is daar in 2017 net minder as 140 000 lewendige bokke ingevoer in Suid-Afrika vanuit Namibië (vergeleke met 158 000 in 2016 en 198 000 in 2015).
Tot September 2018 is daar ‘n verdere 103 000 Namibiese bokke in Suid-Afrika verwelkom en, ook in 2018, het ‘n besending lewendige bokke uit Botswana arriveer. Weens die veeartsenykundige beperkinge wat geld in sekere areas van Botswana, moet areas waar bokke gekoop kan word egter baie versigtig gekies word.
Bokke word ook ingevoer vanaf Swaziland - 39 diere in 2018 (vergeleke met 510 diere in 2016) en vanaf Lesotho - 4280 diere in 2018. Dit is amper die helfte van die invoere (9 630) vanaf Lesotho in 2016.

Uitvoer van Lewendige Bokke vanaf Suid-Afrika

Lewendige bokke van Suid-Afrika word uitgevoer na ‘n aantal lande in Afrika, insluitend Namibië (34), Sudan (103), Senegal (38) en Swaziland (117). Ander lande waarheen lewendige Suid-Afrikaanse bokke in 2018 uitgevoer is, sluit in Bangladesh (15), Mauritius (1099) en Saudi-Arabië (106).
Syfers vir uitvoere in 2018 is tot September.
Afgesien van lewendige diere, word embrio’s en teelmateriaal ook uitgevoer uit Suid-Afrika.

Invoer van Bokvleis na Suid-Afrika

Volgens die Departement Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) bestaan Suid-Afrika se bokvleisinvoere hoofsaaklik uit vars, verkoelde of bevrore karkasse; vars, verkoelde of bevrore snitte met been; en vars, verkoelde of bevrore beenlose vleis. Vanaf 2007 tot 2016 het Suid-Afrika ongeveer 6 200 kg chevon per jaar ingevoer teen ‘n gemiddeld van R83 139 per jaar.
In 2017 is slegs 1.8 ton bokvleis uit Namibië ingevoer. Tot September 2018 is geen bokvleis in Suid-Afrika ingevoer nie.

Uitvoer van Bokvleis uit Suid-Afrika

In sy verslag ‘A Profile Of The South African Goat Meat Market Value Chain’ (2017) sê DAFF dat Suid-Afrika 43 ton chevon teen ‘n waarde van R2.7 miljoen (R62/kg) uitgevoer het gedurende 2016. Dit was ‘n toename van 115% (in massa) en 87% (in inkomste) vanaf 2015 tot 2016.
Ten spyte van ‘n toename in die uitvoer van bokvleis vanaf 2015 tot 2016, het die syfers vir vleisuitvoere drasties gedaal in 2018.
Die 2016 syfer van 43 ton uitgevoerde vleis het in 2018 getuimel tot net meer as 1.2 ton teen September 2018. Dit sluit in ‘n uitvoer van 13 kg bokvleis na die Verenigde Arabiese Emirate.
Uitvoere van bokvleis na Swaziland het afgeneem van 35 000 kg in 2016 tot net 7 kg in 2018.
Judith Weideman van Kalahari Kid Corporation (KKC) sê dat KKC se markte Mauritius, Hong Kong, Uganda en Nigerië insluit. 'As die verbod weer opgehef word sal KKC voortgaan om bokvleis te verskaf aan Kuweit, Saudi Arabië, Oman, Dubai, Katar en Bahrein'. Geen verduideliking vanaf die staatsveeartse van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye kom bekom word oor waarom die verbod in plek is en wanneer dit opgehef sal word nie. (Desember 2018).
KKC is ‘n entiteit wat besit word deur die Noord-Kaapse provinsiale regering en is die ‘Special Purpose Vehicle’ (SPV) wat gebruik word om die bokindustrie te kommersialiseer in die provinsie.

Translated by Elna Van Rhyn