Hoe om met Byeboerdery te Begin

© Chris Daly

Die aanhou van bye kan 'n opwindende buitemuurse stokperdjie wees, maar mag ook ontwikkel in ‘n voltydse kommersiële onderneming. Die kommersiële byeboer sal in staat wees om bestuiwingsdienste te verskaf en by-verwante produkte soos heuning, propolis en byewas te lewer, en mag ook help om nuwe byeboere te leer en te mentor. Byeboerdery is egter harde werk, maar sal selfs die kleinste stokperdjiebyeboer beloon met heuning.
Die ‘South African Bee Industry Organisation’ (SABIO) onderskei tussen stokperdjieboere (met een of 100 korwe) en kommersiële byeboere wat 800 tot 10 000 korwe bestuur. Kleinskaalse of ontwikkelende byeboere mag tussen 10 tot 150 byekorwe bedryf wat dikwels deur kooperatiewe liggame of as gemeenskapsontwikkelingsprojekte bestuur word.
Voordat jy begin boer met bye moet jy eers hieroor besin: byeboerdery is dieselfde as ander veeboerderye – jy moet die bye versorg, seker maak dat hulle gesond en veilig is, kos en water het en dat daar ruimte vir uitbreiding is. Byeboerdery kan harde werk wees. Jy sal swaar korwe vol heuning moet hanteer en bye van een plek na 'n ander moet verskuif vir bestuiwing. In die somer moet jy korwe weekliks ondersoek om vas te stel of die kolonie genoeg jong koninginne het, genoeg spasie vir uitbreiding van die broeisel het en om te kyk vir enige siektes.

Benodighede om 'n Byeboerdery te Begin

©Chris Daly
Om te begin as 'n byeboer het jy oor die algemeen vier dinge nodig:
Jy sal moet leer oor bye en byeboerdery. Die eerste ding is basiese kennis oor hoe 'n byswerm (byekolonie genoem) gestruktureer is. Jy sal ook moet weet van die fisiologie van bye, bysiektes, take van die verskillende tipes bye in die korf en hoe die heuningby voedsel versamel in die natuur.
Die tweede ding wat 'n nuwe byeboer benodig, is 'n plek waar hy/sy die eerste korf gaan plaas. Dit kan 'n boord, boom plantasies (veral bloekom) of 'n land vol blommende plante soos uieplante wees.
Derdens sal die byeboer 'n korf en 'n swerm (kolonie) bye nodig hê. 'n Goeie byekorf sal maklik wees om te hanteer, die bye veilig hou en 'n ruimte bied waarin die bye hul heuningkoeke kan bou en hul broeisel kan grootmaak.
Laastens is dit belangrik om die regte klere te hê (wat bysteke sal beperk) en basiese byeboerdery gereedskap.
Maak seker dat jy nie allegies is vir bysteke nie. Onthou, daar is dikwels nie 'n allergiese reaksie na die eerste steek nie. Allergieë mag eers ontwikkel na verskeie bysteke. Praat met jou dokter en hou altyd die noodsaaklike medikasie byderhand.
Alle byeboere moet registreer by die Departement Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF). Registrasie vind plaas tuusen 1 Januarie en 31 Maart en is gratis. Soek op DAFF na die ‘beekeepers registration form’.

Translated by Elna Van Rhyn