African Elephant
Afrika Olifant

© Justin Fox

Naam

Afrika Olifant of Afrika Bosolifant [Loxodonta africana]

Inleiding

Die olifant is die wêreld se grootste landdier, en weeg tot 7 ton en bereik hoogtes van 3,3 m by die skouer. Olifante kan 'n potensiële ouderdom van 70 jaar bereik. Die massiewe tande van ouer bulle kan tot 50 of 60 kilogram weeg, maar tande wat tot 90 kilogram weeg, is al aangeteken.

Wat is die slurp en waarvoor word dit gebruik?

Die Olifant se slurp is 'n aangepaste neus wat baie sensitief is en selfs water onder die grond kan opspoor. Daar is soveel as 50 000 spiere in 'n olifant se slurp. Die sensitiewe vingeragtige aanhangsels aan die punt van die slurp stel hulle in staat om die kleinste takkie of blom te pluk, die moeilikste grasspriet uit te trek of selfs 'n doring uit hul poot uit te haal.

Het olifante knieë of elmboë?

Die gewrigte wat vir 'knieë' aangesien word, is in werklikheid polse. Dit is 'n algemene misverstand weens die oortuiging dat 'n been gewrig wat tussen die voet en die liggaam buig, 'n knie moet wees. Die belangrikste verskil tussen ons en die olifante is dat ons voetbene en handbene afsonderlik is, terwyl dié van die olifant aaneen is en aangepas is vir hierdie viervoetige soogdier.

Waarom het olifante tande?

Die tande word gebruik om voedsel te in die hande te kry, te veg (onder bulle) en vir selfverdediging. Dit is eintlik hul boonste snytande, en groei voortdurend totdat hulle ongeveer 60 jaar oud is of sterf. Alhoewel hul vel tot 3 cm dik is, is dit baie sensitief.

Dieet

Olifante is gulsige vreters wat in 'n dag tot 272 kg (600 pond) gras, sagte lote en bas van bome verslind. 'n Volwasse olifant kan in 'n enkele sessie tot 200 liter water drink. 'n Enkele olifant mis tot 150kg (330 pond) per dag - ongeveer een mishoop elke 15 minute!

Teling

Olifante is nie seisoenale telers nie. Oor die algemeen produseer hulle elke 3 tot 4 jaar een kalf. Die dragtigheidstydperk is ongeveer 22 maande. By geboorte weeg kalwers ongeveer 100 kg (220 pond) en word tussen 18-24 maande ten volle gespeen. 'n Weeskalf sal gewoonlik deur een van die gesin se lakterende koeie aangeneem word, of sal by verskeie koeie drink.
Olifante is baie sorgsame moeders, en omdat die meeste olifantgedrag aangeleer moet word, hou hulle hul jonges by hulle vir baie jare. Tande kom uit op 16 maande, maar is nie ekstern sigbaar voor 30 maande nie. Wanneer gespeen, gewoonlik op 4 of 5 jaar, bly die kalf steeds in die moedertrop. Koeie is volgroeid op ongeveer 11 jaar en bly in die groep, terwyl die bulle wat tussen 12 en 15 jaar volwassenheid bereik, gewoonlik uit die moedertrop verban word.
Alhoewel hierdie jong bulle seksueel volwasse is, paar hulle nie voordat hulle in hul middel of laat 20s of selfs ouer is, en in die sosiale hiërargie opbeweeg het nie.

Gedrag

Volwasse bulle vorm vrygeselgroepe en word alleenloper bulle. Olifante vorm sterk familie-eenhede van koeie, kalwers en jongelinge. Sulke kuddes word altyd deur 'n ou koei gelei. Behalwe om groot hoeveelhede water te drink, hou hulle ook daarvan om in die water te loop of te swem. Olifante geniet ʼn lekker modderbad.
Daar is vroeër gedink dat familiegroepe deur ou bulle gelei is, maar hierdie bulle is meestal alleenlopers. Die koeitroppe word gereeld deur volwasse bulle besoek om met bronstige koeie paar. Verskeie verwante gesinsgroepe wat mekaar goed ken, kan 'n woongebied deel.

Hoe onderskei jy tussen 'n werklike aanval en ʼn skyn-aanval van 'n olifant?

Dit is noodsaaklik om in gedagte te hou dat olifante uiters intelligent is, en dat elke individu 'n duidelike persoonlikheid het. Alhoewel daar uitsonderings op die reëls sal wees, is die algemene tekens van 'n skyn-aanval 'n bos slanery, stof gooiery, ‘n getrompetter en ander geluide, oop ore en intimiderende gedrag. Aggressiewe of verskrikte olifante maak gewoonlik skielike kop bewegings en flap hul groot ore teen hul koppe.
Werklike stormlope volg gewoonlik nadat alle pogings om te intimideer misluk het, en die olifant steeds bedreig voel. Die ore is plat na agter teen die kop en die kop en slurp word laat sak. Uiteindelik lê die sleutel in die intelligensie van die dier en hoe hulle sal reageer op die 'teiken' en vreemde bewegings, en 'n bewuste besluit word gemaak.

Waarom flap olifante ritmies hul ore?

In teenstelling met die algemene geloof, is dit nie 'n uitdrukking van woede nie. Omdat hulle so groot is, sonder sweetkliere en donker gekleur, flap olifante hul ore om hul liggame af te koel en van irriterende insekte ontslae te raak.

Waar kom hulle voor?

Oorspronklik het hulle oor die grootste gedeelte van Afrika voorgekom, maar olifantgetalle het dramaties oor die vasteland afgeneem. In Suid-Afrika beskerm die Addo Olifant- en Kruger Nasionale Park groot troppe Weens die streng bewaringsmaatreëls het die olifantbevolking in Suid-Afrika van ongeveer 120 in 1920 op 4 plekke, gegroei tot 10 000 op 40 plekke tot op datum.

Notas

Die Afrika-olifant is onlangs geklassifiseer in twee afsonderlike spesies, die meer algemene Afrika-bos-olifant (Loxodonta Africana) en die kleiner Afrika-woud-olifant (Loxodonta cyclotis) van die reënwoude van Sentraal-Afrika.