Bye en Hul Sosiale Struktuur

©Éric Tourneret
Heuningbye is sosiale insekte en leef in groot kolonies. Elke kolonie bevat een vrugbare wyfie (die koningin) en baie duisende werkerbye (steriele wyfies), maar vir ‘n paar maande tydens die somer sal ‘n kolonie ook ‘n paar honderd manlike bye, bekend as hommelbye, bevat. Normaalweg is daar geen hommelbye in ‘n kolonie gedurende die wintermaande nie.
Tot laatherfs bevat die meeste kolonies ontwikkelende jongbye (eiers, larwes en papies), gesamentlik bekend as ‘n broeisel. Die jonges word grootgemaak in waskoeke wat terselfdertyd ook die kolonie se voedselreserwes bevat. Grootmaak van jonges verlangsaam of word heeltemal gestaak in die winter en die kolonie leef dan van die voedsel (heuning en stuifmeel) wat hulle gedurende die somer bymekaargemaak het.
In ‘n goeie jaar kan die byeboer die ekstra heuning uit die kolonie verwyder, mits daar genoeg oorgelaat word waarop die kolonie kan oorleef gedurende die koue maande tot dit weer lente is.

Lede van die Byekolonie

©Waugsberg
‘n Heuningbykolonie bestaan uit twee klasse voulike bye, die koningin en die werkerby. Die mannetjies staan bekend as hommelbye. Die algemene struktuur van die heuningbykolonie is soortgelyk aan dié van ander insekte, maar elk van die drie klasse (werker, koningin, hommel) het ook hul eie spesiale strukture wat aangepas is vir hul gespesialiseerde rolle.
In die somer leef werkerbye vir ongeveer ses weke, maar in die winter, met minder werk om te doen, kan werkerbye vir tot 6 maande leef. Die koningin is die grootste lid van die kolonie en leef vir etlike jare. Haar rol is om eiers te lê sodat meer bye geproduseer kan word. Sy is die enigste by wat bevrugte eiers kan lê. Haar lang agterlyf bevat ovaria wat ‘n groot hoeveelheid eierselle vrystel oor lang tydperke.
Die koningin is in staat om die geslag van haar nageslag te bepaal deur die bevrugting van die eiers wat sy lê te beheer. ‘n Bevrugte eier sal in ‘n wyfie (werkerby) ontwikkel en ‘n onbevrugte eier sal in ‘n mannetjie (hommel) ontwikkel. Hierdie beheer is baie belangrik vir die welsyn van die kolonie, want dis noodsaaklik dat ‘n kolonie baie werkers het om al die werk te doen.

©Chris Daly
Die hommelbye is groter as die werkerbye, maar nie so groot soos die koningin nie. Hulle rol as die manklike bye in die kolonie is om met die koningin te paar sodat sy bevrugte eiers kan lê. ‘n Groot gedeelte van die hommelby se agterlyf word in beslag geneem deur sy geslagsorgane. Hommelbye leef vir etlike maande gedurende die somer, maar word uit die kolonie geskop sodra dit winter word.
Die werkerbye verrig die meeste van die take in die kolonie, soos die skoonmaak van die selle, voeding van die broeisel, produseer van was, bou van heuningkoeke, ventilasie van die korf, bewaking van die ingang, soek na kos en die verwerking van nektar in heuning. Take in die byekorf hang af van die ouderdom van die werker. Die jongste werkers sal byvoorbeeld skoonmakers wees terwyl die oudste werkers soek na kos.

Bye in Suid-Afrika

©Dr Tlou Masehela
Daar is baie verskillende soorte heuningbye en die subspesies verskil in kleur, temperament, produktiwiteit en weerstand teen peste en plae. Sommige bye is mak en maklik om te beheer terwyl ander aggressief en amper onbeheerbaar is.
Volgens die South African Bee Industry Organisation (SABIO), is Suid-Afrika die tuiste van twee inheemse subspesies: Apis mellifera Scutellata (of ‘Afrika by’) en Apis mellifera Capensis (of “Kaapse by”). Die Kaapse by kom voor in die fynbosareas van die Wes- en Suid-Kaap. Die Afrika by kom voor noord van hierdie area, maar daar is oorvleuelings in die twee gebiede en hier kruis die Kaapse by en die Afrika by.
Die Kaapse by neig om makker en donkerder as die Afrika by te wees. Die Kaapse by is uniek omdat hulle beide manlike en vroulike nageslag kan produseer in ‘n kolonie wat nie ‘n koningin bevat nie. Kaapse bye kan ook Afrika by-kolonies oorneem en hule eie eiers daarin lê.
Die Afrika by is aggressief en produseer baie heuning. Die agterlyf is meer geelgestreep as dié van die Kaapse by. Afrika-werkebye is onvrugbaar as die koningin teenwoordig is, maar kan wel onbevrugte, hommelby-eiers lê.

Translated by Elna Van Rhyn