Blesbok

© Roger de la Harpe

Naam

Blesbok (Damaliscus pygargus phillipsi)

Voorkoms

Blesbok ramme en ooie is merkwaardig eners. Hul massa kan tot 85 kg wees. 'n Kenmerk van die blesbok is die prominente wit bles op die gesig en 'n horisontale bruin strook wat hierdie bles oor die oë verdeel. Hulle liggame is bruin met 'n ligter gekleurde saal op die rug, en die kruis is 'n nog ligter skakering. Hulle bene is bruin met 'n wit kol agter die boonste deel van die voorpote. Hul onderbene is witterig. Albei geslagte het horings wat amper tot by die punte gering is. Vroulike horings is effens dunner.

Dieet

Die blesbok is 'n grasvreter wat voorkeur gee aan kort gras, en veral die vars groen gras wat na 'n veldbrand voorkom.

Teling

Die blesbok is 'n seisoenale teler. Paring vind plaas gedurende Maart tot Mei en lammers word gebore gedurende November en Desember na 'n dragtigheidstydperk van ongeveer 240 dae. Ooie gee aan enkel lammers geboorte.

Gedrag

Die blesbok is nou verwant aan die bontebok. Histories het hierdie twee spesies nie op dieselfde plekke voorgekom nie. Op plekke waar beide subspesies aangehou is, is kruisings aangeteken. Gewilde habitat is oop grasvelde met water.

Waar hulle voorkom

Die blesbok se verspreiding is beperk tot die Republiek van Suid-Afrika. Die historiese area sluit in die Oos-Kaap, die Vrystaat, die suidelike dele van die voormalige Transvaal, in KwaZulu-Natal langs die boonste gedeeltes van die Tugelarivier en in Lesotho, wes van die Maluti-berge. Aanvanklik was die blesbok een van die volopste boksoorte van die Afrika-vlaktes, maar hulle het sedert 1893 skaars geword weens die onophoudelike jag vir hul velle en vleis.
Sedertdien het bevolkingsgetalle dramaties herstel weens die suksesvolle bewaring in wildreservate en op plase. Ongelukkig is die blesbok ingevoer in gebiede ver buite hul oorspronklike areas. Vandag word hulle algemeen aangetref op omheinde grond in kleiner troppe, en getalle word op 120 000 beraam.

Veldnotas

Omdat die blesbok en die bontebok so nou verwant is en daar alreeds soveel kruising tussen die twee bokke plaasgevind het, is die presiese getalle van die suiwer stam van elke spesie debatteerbaar. Die naam kom van die Nederlandse term vir die wit bles op die voorkop.