Aartsbiskop Desmond Tutu se Post-Apartheid Werk

Tutu se Nalatenskap

©Eric Miller

Selfs nadat apartheid afgeskaf is, het aartsbiskop Desmond Tutu geweet dat sy werk nie verby is nie. Hy het nog steeds gedroom van wêreldvrede en daarop gefokus gebly om hierdie boodskap te versprei en aan sy nalatenskap te bou. In 1998 het hy saam met sy vrou Leah die Desmond Tutu Vredesentrum gestig.

Die sentrum is in Orlando-Wes in Soweto begin voordat dit in 2000 na Kaapstad uitgebrei het. Die Kaapstad gebaseerde sentrum het ’n leierskapprogram begin. Tutu self was weer soos vroeër ’n onderwyser. Hy het in 2002 by die Episcopal Divinity School in Cambridge, Massachusetts en in 2003 by die Universiteit van North Carolina opleiding gegee.

In 2004 is hy as ’n besoekende professor terug na sy alma mater, King’s Kollege in Londen. Hy was ook vir twee jaar ’n besoekende professor by Emory Universiteit in Atlanta Georgia waar hy teologie gegee het.

Internasionale Veldtog vir Vrede

Tutu het uitgesproke gebly oor die kwessies wat hom gepla het. Hy het sy posisie aktief gebruik om te doen wat hy kon om ’n beter wêreld tot stand te bring. Dit het die volgende behels: Tutu het in 2006 ’n globale veldtog om kinderhandel te bekamp geloods deur alle kinders by geboorte te registreer.

Tydens die Tibettaanse onrus in 2008 het Tutu by ’n pro-Tibettaanse protes in San Francisco aangesluit. Tydens die protes het hy ’n beroep op staatshoofde gedoen om die openingseremonie van die 2008 Somer Olimpiese Spele in Beijing te boikot. Hy het in 2009 gehelp om die Solomon-eilande se Waarheids- en Versoeningskommissie, wat op Suid-Afrika se eie Waarheids- enVersoeningskommissie gemodelleer is, te stig.

Tutu het in 2009 die Verenigde Nasies se klimaatsveranderingskonferensie bygewoon waar hy organisasies versoek het om nie in fossielbrandstowwe te belê nie. Tutu het in 2017 by tien ander laureate van die Nobelprys vir Vrede aangesluit in hulle pleidooi by Saoedi-Arabië om die teregstellings van 14 jongmense, wat aan die Saoedi-Arabiese protes deelgeneem het, te laat vaar. Later daardie jaar het hy Myanmar se leier gevra om die vervolging van die Rohingya Moslems te staak.

Betrokkenheid by Gesondheidskwessies

©Eric Miller

Sedert Tutu met prostaatkanker gediagnoseer is, tydens sy tyd in die 1990’s op die Waarheids- en Versoeningskommissie, was hy baie betrokke by gesondheidskwessies. Hy het veral op MIV/vigs en tuberkulose (TB) gefokus. In 2004 is die Desmond Tutu MIV-stigting tot sy eer gevestig.

Dit het met MIV-navorsing begin en tot MIV-behandeling, voorkoming, opleiding en die monitor van TB-behandelings uitgebrei. Tutu was uitgesproke oor die MIV-epidemie en het selfs sy kommer uitgespreek toe Pous Benedictus XVI verkies is.

Die Pous was bekend as konserwatief ten opsigte van geslag en seksualiteit kwessies en Tutu het sy kommer oor die Rooms-Katolieke kerk se teenkanting teen die gebruik van kondome uitgespreek. Hy het ook ’n beskermheer van die Suid-Afrikaanse Prostaatkanker-stigting geword.

Tutu het in 2014 dit bekend gemaak dat hy nie in die behoud van die lewe ten alle koste glo nie. Hy het ’n ondersteuner van vrywillige genadedood geword en gesê hy sal self die opsie beskikbaar wil hê indien nodig.

Voorsitter van The Elders

©Roger de la Harpe

Tutu is in 2007 verkies as voorsitter van The Elders, ’n groep wêreldleiers wat met wysheid, intelligensie, integriteit en waardes ’n bydrae wil maak om die wêreld se konflikte op te los.

Ander lede het Nelson Mandela (voormalige Suid-Afrikaanse president), Jimmy Carter (voormalige Amerikaanse president), Kofi Annan (voormalige VN sekretaris-generaal) en Mary Robinson (voormalige Ierse president) ingesluit. Hy het die groep se eerste sending na Darfoer in Soedan gelei om die konflik daar te probeer oplos. Hulle het ook die Ivoorkus, Siprus, Ethiopië, Indië, Suid-Soedan en die Midde-Ooste besoek. Tutu het in 2013 uit sy posisie getree.

Ondersteun Gay Regte

Tutu was wydbekend vir sy ondersteuning van gay regte. Dit was as gevolg van sy godsdienstige oortuigings ’n baie kontroversiële posisie. Nietemin het Tutu vas by sy standpunt, dat diskriminasie op grond van seksualiteit gelyk is aan diskriminasie op grond van ras of geslag, gestaan.

Hy het selfs so ver gegaan om na die 1998 Lambeth-konferensie van biskoppe, waar dit weereens bevestig is dat die kerk teen homoseksuele huwelike gekant is, ’n brief aan George Carey geskryf.

In hierdie brief het Tutu gesê dat hy skaam is om ’n Anglikaan te wees en dat as die konserwatiewes nie ingeslotenheid kan aanvaar nie hulle die kerk kan verlaat. Hy het die kerk daarvan beskuldig dat dit obsessief is oor homoseksualiteit. “As God, soos hulle sê, homofobies is, sou ek daardie God nie aanbid nie.” - Desmond Tutu

Die Israel-Palestina Konflik

©Eric Miller

Tutu was altyd in die Israel-Palestina konflik geïnteresseerd en het selfs tydens apartheid homself daaroor uitgespreek. Nadat apartheid afgeskaf is was hy steeds daarin geïnteresseerd. In 2002 het hy ’n toespraak gelewer waarin hy die Israeliese beleid ten aansien van die Palestyne openlik gekritiseer het en sanksies teen die land gevra het.

Hy het die situasie met apartheid vergelyk. Hy sou in 2006 die Verenigde Nasies se sending na die Gazastrook lei. Dit was nadat die Israeliese weermagte 19 burgers doodgemaak het. Dit is egter gekanselleer nadat Israel hom toegang geweier het.

Bevraagteken die Irak Oorlog

Tutu het in 2003 aan ’n protes teen die Verenigde State se planne om die oorlog in Irak te begin deelgeneem. Afgesien van die New York-optog het hy ook Condoleezza Rice gebel en die Amerikaanse regering versoek om nie oorlog te maak nie. Hy wou weet waarom Irak geteiken word vir die besit van dieselfde wapens as Europa, Indië en Pakistan.

Hy het in 2004 in die Off-Broadway produksie, genaamd Honor Bound to Defend Freedom, gespeel. Die produksie het kritiek op die Amerikaanse regering se aanhouding van gevangenes in Guantanamo Baai gelewer. Hy was teen die aanhouding sonder verhoor van mense wat in beide die VSA en VK van terrorisme verdink word.

Hy het hierdie aanhoudings met die wat in die apartheidsera plaasgevind het vergelyk. Hy het in 2012 versoek dat George W. Bush en Tony Blair deur die Internasionale Strafhof vir die inisiëring van die Irak oorlog verhoor word.

Kritiek teen Suid-Afrika se Nuwe Leiers

©Eric Miller

Alhoewel bly dat Suid-Afrika se onderdrukkende regering in 1994 omvergewerp is, was Tutu bedag op die nuwe regering se aktiwiteite en het nie gehuiwer om die foute wat hy opmerk uit te wys nie. Sommige van die dinge wat hy oor die nuwe regering bevraagteken het, was die oorbesteding aan wapens, die beleid oor Robert Mugabe se regering in Zimbabwe en die patroon van Nguni-sprekers wat die top politieke posisies betree.

Hy het Thabo Mbeki daarvan beskuldig dat hy die blinde gehoorsaamheid van ANC-lede eis en hom gekritiseer omdat hy nie genoeg aandag aan die MIV/vigs-pandemie gegee het nie. Tutu het ook Mbeki se opvolger, Jacob Zuma, beskuldig van immoraliteit toe aanklagte van verkragting en korrupsie teen hom ingebring is.

Tutu se Aftrede

©Eric Miller

Tutu het in 2010 op 79-jarige ouderdom uit die publieke oog getree. Hy het met sy werk vir The Elders en die Nobel Laureaat Groep voortgegaan asook die Desmond Tutu Vredesentrum bly ondersteun.

Hy het egter uit sy posisie as kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland en verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se advieskomitee oor die voorkoming van volksmoord bedank. Hy het ikoonstatus in Suid-Afrika behaal en is met talle eredoktorsgrade asook toekennings soos die Nobelprys vir Vrede en die Amerikaanse Presidensiële Medalje van Vryheid vereer.

Translated by Ananda Schoeman

Desmond Tutu se Bydrae tot die Afskaffing van Apartheid

Tutu het in 1984 die Nobelprys vir Vrede gewen en was die tweede Suid-Afrikaner wat die toekenning ontvang het....more

Nelson Mandela a Man of Destiny by Archbishop Desmond Tutu

Op die Sondag nadat Nelson Mandela as president verkies is, het 30 000 mense 'n dankseggingsdiens by die FNB-stadion naby Soweto bygewoon....more