Aanvullende Voeding vir Bokke

©Marinda Louw
‘n Bok kry die meeste voedingstowwe uit weiding en moet 6-8 ure per dag wei - gras en blare vreet. Voeding van jou bokke moet gefokus wees op korrekte veldbestuur sodat benodige voeding so ver moontlik deur natuurlike weiding kan gebeur. As die kwaliteit van die weiding afneem gedurende die droë seisoen, moet die boer ekstra voer voorsien. Aanvullende voeding vervang nie natuurlike weiding nie, dit vul net die tekort aan.
Natuurlike weiding is die goedkoopste voeding vir bokke en produksiekoste sal styg weens aanvullende voeding, maar aanvullende voeding raak veral belangrik tydens die laaste fases van dragtigheid en eerste fases van laktasie. Die voedingsbehoeftes van ‘n kapater (gekastreerde ram) of droë ooi is ongeveer dieselfde, maar tydens laktasie sal ‘n ooi se voedingsbehoeftes toeneem met meer as 50%. (Aanvullende voeding van kapaters sal slegs voordelig wees tydens droogtes of om hulle af te rond voordat hulle geslag word).

©Marinda Louw
Aanvullende voeding moet ten minste vier verskillende soorte voer insluit om ‘n gebalanseerde dieet te verseker. Daarbenewens benodig diere beide energie en proteïene om gesond te bly. Peulgewasvoer (lusern en swartbekboontjies) se proteïeninhoud is hoog en verskaf ook baie energie. Opgebergde voer (wat droog gehou moet word sodat dit nie muf raak nie) kan gevoer word in die droë seisoen.
Konsentraatvoer, ongeveer 400g per dag vir ‘n droë ooi, kan gegee word as byvoeding. ‘n Mengsel van 2 tot 3 verskillende tipes konsentraat sal ‘n balans tussen energie en proteïen verseker. ‘n Lepel sout en mineraal-en vitamine-mengsel kan bygevoeg word om te verseker dat die mineraal, en vitaminebehoeftes ook bevredig word.
Voer wat baie energie verskaf is mielies, gort, brouersgrane en katoensaadoliekoekmeel. Voer wat bie proteïene bevat sluit in vismeel, sojaboonmeel, katoensaadoliekoekmeel en brouersgrane. (Brouersgrane is die oorblyfsels van die gegiste grane nadat bier gemaak is.)
‘n Goeie bron van stikstof en energie vir bokke is ‘n urea-melasse blok om aan te lek. Dit sal hulle ook help om voer beter te verteer, veral in die droë seisoen. Hou dit in ‘n oop houer, weg van die vloer af, sodat alle bokke daaraan kan lek wanneer hulle so voel.

Translated by Elna Van Rhyn