Waterkwaliteit in Varswater Visboerdery

© Henk Stander
Waterkwaliteit is van die uiterste belang in varswatervisboerdery (akwakultuur) in Suid-Afrka omdat dit ‘n gesonde wateromgewing vir vis verseker.

Goeie kwaliteit water beïnvloed hoe visse groei (goeie kwaliteit water = vinniger groei), die voorkoms van siektes, sowel as die kleur en smaak van vis. Waterkwaliteit word bepaal deur vier hooffaktore:

Watertemperatuur
Suurstofvlakke in die water
Ammoniakvlakke in die water
Water pH (die vlakke van suurheid of alkaliniteit)

Die meeste waterkwaliteitsprobleme in varswatervisboerdery kan toegeskryf word aan ‘n gebrek aan suurstof, hoë ammoniakvlakke of hoë pH vlakke. Hierdie probleme word baie nou verbind aan die vlakke van mikroskopiese alge in die water.

Die goei van hierdie alge hang af van die hoeveelheid voedingstowwe – stikstof (N) en fosfor (P) - in die water. Hierdie voedingstowwe beland in die dam via:

Die bronwater (invloei van water in die dam).
Die invloei van sediment gedurende tye van swaar reënval (afvloei).
Viskos gedurende die produksiesiklus.

Watertemperatuur in Visboerdery

Forel groeioor die algemeen optimaal tussen 14 en 18°C (16°C optimum watertemperatuur) maar warm spesies soos skerptandbabers groei goed in warmer water (20 – 30°C) en tilapia verkies selfs hoër watertemperature van 24 - 34°C.

Forel is sensitief vir warm water. Temperature hoër as 20°C sal veroorsaak dat forel ophou groei en sal ander produksieprobleme soos vehoogde risiko van siektes en suurstofprobleme veroorsaak, verduidelik Henk Stander, hoof tegniese bestuurder van Aquaculture: Department of Animal Sciences, Stellenbosch Universiteit.

Hierdie probleme (verhoogde risiko van siektes en verlaagde suurstofvlakke) word hoofsaaklik veroorsaak deur te veel mikroskopiese alge in die water. Sodra temperature 21°C en hoër bereik, moet spesiale voorsorg getref word om visvrektes en die ontstaan van algebesmetting te voorkom. Algebesmetting word veroorsaak deur die verhoogde aantal blou-groen alge as gevolg van die verhoogde temperature en beskikbaarheid van voedingstowwe. Die alge stel chemiese samestellings soos geosmin (wat soos grond ruik) in die water vry. Hierdie stof word deur die vis geabsorbeer en dit verander die smaak van die vis.

Suurstovlakke in Visboerdery

©Marinda Louw
Die suurstofvlakke van water in varswatervisboerdery moet 5 mg/L en hoër wees te alle tye. As die suurstofvlakke in die water te laag is, sal die vis nie in staat wees om asem te haal nie en hulle sal stres.
Suurstofprobleme word hoofsaaklik veroorsaak deur mikroskopiese alge. Hierdie klein alge fotosinteer en produseer suurstof. Met normale vlakke van hierdie alge sal daar nie probleme wees nie.

As hoeveelhede van hierdie alge egter vermeerder, kan die suurstofvlakke gedurende die nag laer as 5 mg/L daal en dan sal daar die volgende oggend suurstofprobleme wees.

Tweedens, as groot hoeveelhede klein alge skielik vrek (weens betrokke weer of bespuiting met algedoders) sal aerobiese bakterieë massief toeneem om die dooie alge te help afbreek. Hierdie aerobiese bakterieë verbruik suurstof wat die suurstofvlakke in die damme skielik erg sal laat daal en stres by die visse veroorsaak.

Ammoniakvlakke in Vars Water

©Marinda Louw
Ammoniak is ‘n komponent van stikstof (N) in water. Tensy daar ‘n direkte invloei van ammoniak is, of die water verkeer in ‘n baie anoksiese (nie genoeg suurstof nie) toestand, sal die meeste stikstof in die water in die vorm van nitrate wees, wat nie skadelik is vir vis nie.

Ammoniak kom voor in ‘n toksiese (vrye ammoniak) en ‘n nie-toksiese (geioniseerde ammoniak) vorm, maar die toksiese vorm is gewoonlik minder as 10% van die totale ammoniakkonsentrasie. In warmer water (+20°C) met ‘n hoë pH (8.5), sal toksiese ammoniak toeneem.

Ammoniakvlakke sal oor die algemeen nie probleme in damme veroorsaak nie, tensy die damme baie vlak is (5 m of minder) en met ‘n lae jaarlikse omsettempo van minder as of een (‘Jaarlikse omset’ verwys na hoe vinnig of stadig ‘n dam se totale watervolume vervang word deur reën of water wat invloei).

Die pH van Damwater

©Marinda Louw
Die pH van water dui aan of ‘n dam suurder of meer alkalies is. ‘n pH van 7 is neutraal. Die meeste varswatervissoorte kan pH-vlakke van 5 tot 9 verdra.

Die belangrikste faktor wat pH-vlakke sal laat verhoog, is die groei van klein alge. ‘n Oorvloed van hierdie alge kan die pH-vlakke in veral klein plaasdammetjies verhoog tot hoër as pH 9 (veral in die namiddag). Dis te wyte aan die verwydering van koolstofdioksied gedurende die fotosinteringsproses. Hierdie hoë pH sal vis onder stres plaas.
Om hierdie vlakke te verander, is dit nodig dat water vervang word. Voeg vars water by indien moontlik. Anders kan gortstrooi by die water gevoeg word.

Translated by Elna Van Rhyn