Robbeneiland: ’n Gevangenis vir Baie

Vroeë Gevangenes se Lewenstoestande

©Eric Miller

Weens die gebrek aan dokumentasie en die afwesigheid van enige bestaande geboue is die toestande op die eiland gedurende die 1700’s moeilik om vas te stel, maar daar kan aangeneem word dat die lewe nie ’n piekniek was nie.

Die meeste gevangenes is gedwing om harde handearbeid op die eiland te doen soos klippe kap of skulpe versamel. Die kosvoorrade was altyd laag en die rantsoene min, wat verskeie protesaksies deur die gevangenes tot gevolg gehad het.

Niks kon die voortdurende begeerte na vryheid keer nie en daar was verskeie ontsnappingspogings oor die jare heen. Om die waarheid te sê, daar het baie meer mense vanaf Robbeneiland ontsnap as wat algemeen erken word.

Roeibote is soms uit die boothuis gesteel en buitelandse vragskepe het partykeer onwettig op die eiland anker gegooi met die hoop om addisionele bemanningslede op te tel. Ander het selfs in die yskoue seewater na die vasteland geswem.

Die Tweede Generasie Gevangenes op Robbeneiland

©Tracey Derrick

Die eerste generasie politieke gevangenes op Robbeneiland was Kaapse Khoikhoi wat teen die Nederlandse regering gerebelleer het asook rebelleleiers uit ander dele van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie se ryk, soos Indonesië.

Die tweede generasie was inheemse rebelleleiers van die Oos-Kaapse grens wat gevang en na die eiland gestuur is, soms saam met hulle vrouens en kinders. Die Britte het orals met die inwoners van hulle uitgebreide Suid-Afrikaanse gebied geveg.

Gevolglik was daar ander politieke gevangenes behalwe die Xhosa wat gedurende die 1800’s tyd op Robbeneiland spandeer het. Sommige Boesmans en Khoikhoi is daarheen gestuur vir hulle rol in die Bokkeveld-opstand van 1824.

Die Zoeloe-hoof van die Hlubi-stam, Langalibalele, is van 1874 tot 1875 daar aangehou vir sy opstand teen die Britse magte in Natal. Die leiers van die Koranna-oorloë, wat in 1870 en 1879 langs die Oranjerivier geveg is, is ook gevange gehou vir hulle weiering om die koningin en Brittanje te vereer.

Translated by Ananda Schoeman