‘n Algemene vrywaring: die evolusieteorie word nie deur almal aanvaar nie. Ten spyte van meer as 100 jaar van wetenskaplike navorsing en stoorkamers vol fossiele is daar steeds mense wat dit moeilik vind om evolusie met hul godsdienstige en persoonlike oortuigings te versoen. Om die waarheid te sê, die konflik tussen evolusie en kreasionisme is net so heftig vandag as wat dit was die dag toe die naturalis, Charles Darwin, die wêreld vir die eerste keer geskok het met sy opwindende blitsverkoper “On the Origin of Species.”
Indien jy die bestaan van die anti-evolusiebrigade betwyfel, gaan slaan ‘kreasionisme’ na en jy sal massas inligting vind wat ten doel het om evolusie te verklaar, verwerp en as afkomstig van die duiwel te verklaar. Hierdie is egter nie die tyd of plek om by dié betrokke debat betrokke te raak nie en die opinie dat die twee denkrigtings nie wedersyds uitsluitend is nie, word aangebied.
Daar word bespiegel dat meer as 35% van die planeet se hominiede fossiele wat al gevind is, in of rondom die Wieg van die Mensdom gevind is – tans meer as 1000 monsters van ongeveer 11 terreine. Boonop is hierdie fossiele gewoonlik in ‘n uitstekende toestand van bewaring danksy die feit dat hulle begrawe was in droë, donker grotte. Dit het talle generasies wetenskaplikes en anatomiste in staat gestel om selfs dieper te delf in ons verlede. En daar is nog!
Die Wieg van die Mensdom bevat ook tienduisende fossiele wat bewys lewer van die flora en fauna van die gebied se oeroue ekosisteme. Opgrawings in die onderskeie grotte van die Wieg van die Mensdom het bewyse gelewer van ‘n wye verskeidenheid verstommende en selfs skrikwekkende wesens wat eens die landskap bewoon het saam met ons redelik tingeringe voorgeslagte: daar is uitgestorwe soogdiere, knaagdiere, ystervarke, bokke, bobbejane, ape, enorme buffels met drie meter-lange horings, sabeltand-katte, die sogenaamde vals sabeltandkat Dinofelis, die eienaardige wolf-hond van Gladysdale, die drietoon perd, die kortnek kameelperd, om nie te praat van die reuse dassies, reuse hiënas en reuse vlakvarke (wat om en by 120 kilogam kon geweeg het), nie.
Die fossielrykdom van die Wieg van die Mensdom is van onbestwisbare universele belang en hierdie tasbare bewyse ondersteun die “Out-of-Africa” teorie waarvolgens moderne mense ontwikkel het uit Suidelike Afrika voordat hulle noordwaarts migreer en die aarde gekoloniseer het. Hierdie hipotese word verder versterk deur die vele voorbeelde van klipgereedskap wat in die area gevind is en is onlangs min of meer bevestig deur gesofistikeerde studies wat gedoen is oor genetiese uiteenlopendheid onder moderne mense.
Ongelukkig is dit uit ‘n genealogiese oogpunt steeds moeilik om te bepaal wie aan wie oorsprong gegee het en dit moet in ag geneem word dat menslike ontwikkeling nog nie ‘n eksakte wetenskap is nie. In werklikheid is ons begrip van ons hominiede voorsate gebaseer op ‘n relatiewe klein aantal fossiele en nuwe ontdekkings dwing ons konstant om te herbesin oor ons herkoms en ons stamboom te hersien. Maar dit dra by tot die opwinding rondom die veld van paleontologie en selfs na 80 jaar van onophoudelike opgrawings in die Wieg van die Mensdomarea, is daar steeds veel om te ontdek. Die Wieg van die Mensdom area trek steeds kenners van oor die wêreld omdat hulle graag hul name wil voeg by die lys van reeds beroemdes wat bydraes tot die veld gelewer het. Wie kon dink dat bestudering van die verlede so ‘cutting-edge’ kan wees?
Die ou aflos-resies model van menslike evolusie waarin die een spesies die stokkie sonder stamp of stoot aangee na die volgende, is as vals bewys. Dis jammer, want dit was altyd redelik eenvoudig, soos die beroemde diagram van die aap wat ‘n metamorfose ondergaan en ‘n mens word: Ape het Australopithecus geword, wat weer Homo habilis geword het, wat weer Homo erectus geword het, wat Homo sapiens geword het.
Die fossiele wat gevind word in die Wieg van die Mensdom en oostelike Afrika het bewys dat daar dikwels verskeie verskillende spesies hominiede gelyktydig in dieselfde area gewoon het. Wat het veroorsaak dat een spesies oorleef het terwyl ander uitgesterf het? Dis moeilik om met sekerheid te sê. Moontlik het een spesies meer geskikte aanpasbaarheid ontwikkel. Moontlik het het een spesies beter gereedskap ontwikkel om te help in die aanpassingstryd. Dalk het een die konsep van taal vroeër ontwikkel as die ander. Dalk het die spesies ondertrou (waarskynlik tot die onsteltenis van die ouers). Of dalk het die spesies die ander konfronteer en doodgemaak (‘n hoogs waarskynlike moontlikheid gesien in die lig van ons onlangse verlede). Al hierdie vrae word steeds hewig debatteer deur die Paleo gemeenskap en daar is ‘n aantal spesialispublikasies wat gedetailleerde analises van elke posisie verskaf.
Translated by Elna Van Rhyn