Impala
Rooibok

© Roger de la Harpe

Naam

Rooibok (Aepyceros melampus)

Orde

Artiodactyla (Ewehoewiges)

Familie

Bovidae (Horingdraers)

Voorkoms

Die rooibok is die mees algemene boksoort in die Suid-Afrikaanse bosveld. ’n Grasieuse rooibruin wildsbok met ’n wit onderkant en ’n skouerhoogte van omtrent 900 mm. Ramme weeg omtrent 60 kg en ooie 40 kg. ’n Swart streep strek van die bokant van die boud tot onder op elke dy. Die laer agterbene het kliere agter ’n klos swart hare. Die ram het liervormige horings wat tot 700 mm lank kan word.

Dieet

Die rooibok is sowel ’n gras-as blaarvreter. Wanneer beskikbaar word akasia peule en vrugte geëet.

Voortplanting

Na ’n dratyd van 194 tot 200 dae word ’n enkele lammetjie tussen September tot Januarie gebore. ’n Ooi is seksueel volwasse teen 2 jaar oud. Jong ramme is seksueel volwasse op ’n jaar oud maar voortplanting geleenthede word verhoed word deur die ouer territoriale ramme.

Sosiale gedrag

Troppe wei nie sommer verder as agt km van ’n permanente waterbron af nie. Die rooibok is bekend vir skouspelagtige reuse spronge oor die bosse as dit skrikgemaak word.
Bronstyd vind gedurende die vroeë winter maande plaas. Jong ramme bly in alleenloper troppe en die wat sterk genoeg is om ’n gebied te verower bly dominant en die enigste ram in die gebied tydens bronstyd. Ooie bly in teel troppe.

Habitat

Die voorkeur habitat is die bosveld graslande van die noordelike en oostelike gebiede van Suid-Afrika en in die buurlande.

Natuurlike vyand

Die rooibok word deur die meeste groot roofdiere gejag en die lammetjies word dikwels gevang deur die luislang. Die rooibok is daarom altyd op en wakker. Indien een onraad vermoed, maak hy alarm deur ’n harde snorkgeluid te uiter en die res van die trop laat spaander na veiligheid.
Dit is een van die natuur se besonderse ervarings om te sien hoe hierdie bokke hulle ongelooflike 3 meter hoë en 12 meter lange spronge uitvoer.

Spoor beskrywing

Hoewe is skerp, netjies, gepunt en 4 tot 6 cm lank.

Veldnotas

Een van die meer bekende wildsbokke van die Afrika-savanne, die rooibok, word na verwys as die McDonald’s van die bos, aangesien dit die mees algemene prooi vir roofdiere is. Die strepe agterop die 2 boude lyk ook in ’n mate na die maatskappy se logo.