Die Toer na Robbeneiland

Die Begin van die Toer

©Aaron Polikoff
Die opvallende, geometriese ontwerp van die Nelson Mandela Gateway is onmiskenbaar. Loop die breë kliptrappe op deur die hoë glasdeure en jou reis na Robbeneiland het begin. Voor jou is die inligtingskantoor wat beman word deur ongelooflik geduldige beamptes wat dieselfde drie vrae oor en oor beantwoord. Die veerboot verlaat die hawe elke twee ure vanaf nege uur die oggend. Hierdie toer neem ongeveer 4 ure.
Aan die linkerkant is die geskenkwinkel waar jy ’n groot verskeidenheid produkte van Robbeneiland kan koop. Handelsmerk-mineraalwater, sokkies, serpe, sleutelhouers, boekmerke, dagboeke, rekenaarmuis-matte, kalenders, lepels, glase, hemde, oorbelle, bekers, baadjies, poskaarte, yskasmagnete en kopieë van die “Freedom Charter” is beskikbaar. Jy kan selfs ’n sleutel vir Robbeneiland koop, wat redelik gepas is aangesien dit presies is wat die gevangenes vir Kersfees sou wou hê. Die winkel het ook ’n goeie verskeidenheid boeke en video’s, insluitende ’n aktiwiteitsboek vir kinders.

Die Kaartjieskantoor

©Aaron Polikoff
Die kaartjieskantoor is aan jou regterkant. As jy slim genoeg was om vooruit te bespreek sal jy jou kaartjies hier kan afhaal. Dit is altyd besig by die kaartjieskantoor, so jy moet betyds hier wees om onnodige stres te voorkom. Jy kan ook jou kaartjies hier koop, maar moenie dink dat jy net hier kan kom en op die volgende veerboot klim nie. Ongeveer ’n half miljoen mense besoek die eiland elke jaar en die veerboot neem net ’n paar honderd mense op ’n slag. Dit is dus nie verbasend dat die toere gewoonlik ’n dag of twee vooraf bespreek word nie. In die piek seisoen, Desember en Januarie, is kaartjies baie moeilik bekombaar.
Alhoewel die meeste mense net aan die gebou dink as die plek waar jy kaartjies kry, is die Nelson Mandela Gateway ’n integrale deel van die museum ervaring. Daar is verskeie uitstallings op die boonste verdieping en ’n groot video-argief. Besoekers wat haastig deur die Gateway jaag sal baie mis, so kom vroeg en spandeer tyd om die plek te verken. Die gebou het drie verdiepings. Op die ingang vlak, wat in die middel is, is daar ’n video-muur-installasie. Dit bestaan uit video boodskappe van ’n uiteenlopende verskeidenheid oud-politieke gevangenes, beide van Robbeneiland en ander gevangenisse.

Robbeneiland Mayibuye-Argief

©Tracey Derrick
Op die boonste vlak is daar verskeie uitstalruimtes en die video-argief. Daar is so baie mense wat ons van vergeet en net so baie van wie ons nog nooit gehoor het nie. Al die materiaal wat hierdie uitstallings opmaak is afkomstig van die Robbeneiland Mayibuye-argief wat by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou word.
Op die onderste vlak is daar verskeie groot, roerende foto’s van die eiland en sy gevangenes, asook ’n versameling houtkaste. Trek die laaie van hierdie kaste oop en jy sal ’n eklektiese verskeidenheid aandenkings van die eiland kry: boeie, gevangenes se briewe, uitgerafelde komberse, tuisgemaakte sertifikate van sportgebeurtenisse en ander persoonlike besittings.
Die laer vlak het ook ’n ouditorium wat vir spesiale geleenthede en personeel vergaderings gebruik word. Hierdie vergaderings kan blykbaar baie energiek wees, soos toepaslik vir ’n organisasie met sy wortels in die vryheidsbeweging.
Sodra jy klaar rondgekyk het moet jy na die laer vlak gaan waar jy op die veerboot sal klim. Jy moet 30 minute voor vertrektyd opklim en die boot vertrek op tyd.

Translated by Ananda Schoeman