Wat is Kinkelbos?

© Gaynor Schoeman
Kinkelbos (Tetragonia decumbens of dune spinach in Engels) is ‘n laaggroeiende (0.1 -0.3m hoog) kruipende struik wat voorkom in die kusgebiede op die duine naby die see. Die plant kom voor langs die kus vanaf suidelike Namibië tot by die Oos-Kaap.
Die rankende takke kan langer as ‘n meter word, en skiet wortel met intervalle waar dit aan die grond raak. Die donkergroen vlesige blare is oortrek met mikroskopiese selletjies wat water stoor en glinster in die sonlig. Die vierblarige geel blomme verskyn vanaf Augustus tot November en produseer vierkantige vrugte in die somer – vandaar die naam ‘tetragonia’.
Kinkelbos help om die grond op duine te stabiliseer en vorm organiese materiaal wat weer ‘n habitat vir ander plante verskaf om hulself te vestig. Daarby is die blare en stingels eetbaar. Dis die beste om hulle in die winter te oes. Maak seker dat slegs die blare gepluk word en dat die hele plant nie ontwortel word nie. Was deeglik om van alle sand ontslae te raak en gebruik rou in slaaie. As dit gekook word gaan van die sout smaak verlore. Bedien met botter op pasta (sommige kokke voeg ook suring by), in aartappelslaai en in roerbraaigeregte.

Die Kweek van Kinkelbos

Kinkelbos is ‘n vinnig-groeiende, lae-onderhoudplant wat maklik groei as stukke stingels met wortels daaraan geplant word. Die plant is gehard en groei welig in sanderige grond – ideaal om duinegebiede te stabiliseer. Dit benodig min water, maar dit sal wys wees om wortels klam te hou nadat dit verplant is. Die plant blom vanaf lente tot vroeë somer en dra vrugte in die somer.
Kinkelbos is relatief siekte- en plaagbestand.

Translated by Elna Van Rhyn