Suid-Afrika se Landswapen

Hoekom is Daar ’n Landswapen?

Die Landswapen is ’n Staatsembleem en die grootste visuele simbool van ons nasie. Tradisioneel is ’n landswapen as ’n seël gebruik om te verseker dat daar nie met briewe gepeuter word nie en om die geloofwaardigheid van die skrywer aan te toon.

Vandag toon die gebruik van die Suid-Afrikaanse Landswapen aan dat die dokument deur die President van Suid-Afrika goedgekeur is. Absolute gesag word aan so ’n dokument met die afdruk van die landswapen bo-op verleen.

Die nuwe Suid-Afrikaanse Landswapen is op 27 April 2000, op Vryheidsdag, bekend gestel. Die verandering van die landswapen was om die demokratiese verandering te klemtoon en ’n gevoel van patriotisme by alle Suid-Afrikaners te bevorder.

Die Ontwerpproses

Op 7 September 1993 het die Veelparty-Onderhandelingsraad van Suid-Afrika ’n Nasionale Simbool-kommissie aangestel om na ontwerpe vir Suid-Afrika se nuwe simbole, vlag en volkslied te begin soek. Hulle het die Suid-Afrikaanse algemene publiek gevra om idees in te dien en uit hierdie idees het hulle saam met die kabinet ’n ontwerp voorgestel.

Die regering se Kommunikasiediens (GCIS) het Design South Africa, ’n organisasie wat Suid Afrika se ontwerpsagentskappe oorsien, genader. Die vereistes is aan die top-tien ontwerpers gegee en die drie bestes is gekies om hulle ontwerp konsepte aan die kabinet voor te lê. Mnr. Iaan Bekker, ’n direkteur van die Foote, Cone & Belding Groep, se ontwerp is aanvaar.

Die Ontwerp

Die ontwerp van die Nasionale Landswapen bestaan uit ’n groep elemente wat simmetries eiervormig op mekaar geplaas is. Die onderste eiervormige sirkel verteenwoordig ons fondasie en bestaan uit ’n paar elemente. Die eerste element is in ’n groen halfsirkel geplaas en dit is die leuse, “!ke e:/xarra //ke”, wat “Diverse mense verenig” beteken.

Twee simmetries geplaaste olifanttande wat opwaarts wys voltooi die halfsirkel. Binne-in hierdie halfsirkel is twee koringare wat ’n goue skild omraam. Die skild se vorm verteenwoordig ’n drom en binne-in hierdie vorm is twee mensefigure. Dit is ’n nabootsing van die Khoisan rotskuns. Bo die skild, as ’n enkele eenheid, is ’n gekruiste spies en knopkierie.

Al hierdie elemente vorm saam die laer ovaalvormige fondasie. Reg bo die fondasie is die ovaal vorm van opkoms, waarvan die basis deur die koningsprotea gevorm word. Die protea se kroonblare is in ’n driehoekige vorm en dit herinner jou aan Afrika-kuns. Bo die koningsprotea is ’n sekretarisvoël waarvan die borsgedeelte deur die protea gevorm word.

Die sekretarisvoël se vlerke is boontoe uitgestrek en dit voltooi die boonste ovale vorm van opkoms. Die opkomende son bokant die horison is tussen die sekretarisvoël se vlerke en dit voltooi die sirkel van opkoms. Hierdie kombinasie van die twee ovale kruisings skep ’n ongebroke harmonie tussen die elemente en het ’n moderne en elegante ontwerp tot gevolg.

Translated by Ananda Schoeman