Reedbuck
Rietbok

© Roger de la Harpe

Naam

Rietbok (Redunca arundinum)

Voorkoms

Hulle kan tot 70 kg weeg en ramme het 'n skouerhoogte van 950 mm. Ooie is kleiner en meet slegs 800 mm by die skouers en weeg ongeveer 51 kg. Die pels is grysbruin met ‘n wit onderkant. Stert is bosagtig met ‘n wit punt.
Kenmerkende swart haarlose klierlappie onder die ore. Slegs ramme het horings tot en met 450 mm lank. Die rietbok het inguinale kliere in die lies wat 'n wasagtige stof afskei, ramme het een paar en ooie soms twee. Hierdie kliere hou verband met territorialiteit.

Dieet

Hulle is hoofsaaklik grasvreters. Wanneer gras nie beskikbaar is nie, sal hulle ook klein hoeveelhede kruie vreet. In moeilike omstandighede sal hulle gedurende die dag wei alhoewel dit ‘n spesie is wat aktief is gedurende die nag.

Teling

Ooie kan dragtig raak teen die tyd wat hulle tussen die ouderdom van 15-18 maande is en die ramme is na 2 jaar seksueel volwasse. Hulle teel reg deur die jaar maar geboortes is meer algemeen gedurende die somer.
‘n Lam word gebore na ‘n swangerskap periode van 225 dae. Pas gebore lammers verskuil hulself vir tot en met 3 maande, daarom die vereiste vir geskikte skuiling in hul habitat.

Gedrag

Hierdie medium grootte bok beweeg saam in klein groepe. Wanneer die bok hardloop, het dit ‘n kenmerkende skommelgang met die stert opwaarts en tydens die beweging is die wit onderkant sigbaar. Die rietbok is territoriaal.
Ramme van dieselfde kudde is geneig om ander ramme, wat reeds gepaar is met ‘n ooi, te verdedig teen ander ramme. Sodra ‘n ooi volwassenheid bereik verlaat sy die familie groep om haar eie bande te vorm. Jong ramme word toegelaat om tot die derde jaar van hul lewe in die groep te bly. Die rietbok is ‘n nabye familielid van die Berg-rietbok

Habitat

Hierdie bok se natuurlike habitat is nat grasvelde. Ongelukkig het hierdie tipe habitat aansienlik gekrimp, met die gevolg van ‘n afname in die getalle van rietbokke.

Waar Hulle Gevind Word

Vandag is hierdie bok te vinde in die Kruger Nasionale Wildtuin en nog ‘n paar ander wild reservate in KwaZulu-Natal.