Pietersielie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Pietersielie plant slegs voort met die saai van saad.

Plantmetode

Pietersieliesaad en saailinge word met die hand en meganies geplant. Saai die saad direk in die grond, ongeveer 50 saad per meter, om 'n digte akker pietersielie te verseker. Dun dit later uit om die geswende plantdigtheid te verkry indien nodig.

Spasiëring

Die plante moet 10 cm van mekaar, in rye wat 20-30 cm uitmekaar is, gespasieer word. Dit is ongeveer 300 000 tot 450 000 pietersielieplante per hektaar. Rye moet oopgelos word vir trekkers asook sproei en oesgereedskap.

Saaityd

Saai pietersieliesade in die vroeë lente en probeer om die laaste ryp te mis. Al is pietersielie rypbestand, is dit beter om ryp te vermy terwyl die plantjies nog klein is. In Suid-Afrika sal dit in midel-Augustus wees. In areas met milde winters kan aanplanting in die laat somer of vroeë herfs gedoen word, wat oeste sal lewer in die vroeë lente of selfs gedurende die wintermaande.

Planttyd

Pietersilie saailinge kan gedurende Junie en Julie in 'n kweekhuis gekweek word. Dit sal 'n voorsprong van 'n paar weke op produksietyd gee. Plant die saailinge uit wanneer hulle ongeveer 15 cm hoog staan. Dit kan ook in mid-Augustus gedoen word.

Groeiperiode

Dit neem ongeveer twaalf weke vandat die sade geplant word tot wanneer die eerste oes gedoen kan word. Daarna kan die pietersielie nog drie of vier keer geoes word. Sny die pietersielie 15 cm bo die grond af en laat genoeg stam en een of twee blare vir hergroei. Die tyd tot die volgende oes sal ongeveer vyf weke wees, en elke vyf weke daarna vir die res van die somer.

Bemesting

Bemes na aanleiding van die grondanalise wat voor aanplanting gedoen is. Gebruik ongeveer 200 kg 3:1:5 in die boonste 10 cm van die grond voor aanplanting. Herhaal dieselfde hoeveelheid 3:1:5 langs die plantrye af wanneer die pietersielieplante ongeveer 20 cm hoog is – dit behoort oorgenoeg bemesting te wees tot die eerste oes. Dien dieselfde hoeveelheid 3:1:5 toe na elke agtereenvolgende oes. Blaarvoeding werk goed om gesonde blare te bevorder.

Besproeiing

Pietersielie het 'n relatiewe vlak wortelsisteem en is derhalwe sensitief vir vogstres. Dit is dus baie belangrik om die grond teen die optimale kapasiteit, soos aanbeveel vir die tipe grond, te hou. Installeer vogmeters vir konstante kontrolering. Stres sal die groei vertraag en minder lower om te oes produseer.
Pietersilie kan met 'n sproeier of 'n drup besproei word. Drupbesproeiing is egter die beste omdat dit die blare droog hou, terwyl sproeiers die delikate plante kan beskadig. Nat lower kan swamgroei veroorsaak. Afhangende van die weer en temperatuur, benodig pietersielie ongeveer 35-40 mm besproeiing per week. Dit is raadsaam om hierdie hoeveelheid in twee of drie aanwendings per week te verdeel. Vir meer sanderige grond kan besproeiing so gereeld as elke tweede dag benodig word. 'n Deklaag word aanbeveel, aangesien dit verdamping verminder. Dit help ook om onkruid te beheer. 'n Plastiek of organiese deklaag kan gebruik word.

Translated by Rentia Pretorius