Inleiding tot Volhoubare Konynboerdery

© Karoline Steenekamp

In baie Suid-Afrikaanse huishoudings raak dit al moeiliker om die gesin van hoë kwaliteit proteïne te voorsien wat noodsaaklik is vir groei en goeie gesondheid. Voordat ‘n gesin of gemeenskap na konyne kan kyk as ‘n bron van voedsel, is daar ‘n aantal dinge wat reeds in plek moet wees.

‘n Groentetuin is noodsaaklik. Dit is belangrik dat die groentetuin goed gevestig moet wees en meer vars groente as wat die gesin daagliks benodig, moet verskaf.

‘n Konstante bron van vars water.

Behuising wat die konyne beskerm teen die weer en roofdiere en wat gerieflike leefruimte aan elke indiwidu bied.

‘n Mentor wat kan raad gee en oplei ten einde sukses vir die boer te verseker en ook seker te maak dat konyne nie verkeerd hanteer word weens onkunde nie.

Waarom met Konyne Boer?

Redes om met konyne te boer sluit die volgende in:

Eerstens bereik konyne vroeg seksuele rypheid en kan reeds vanaf vyf tot agt maande oud gepaar word. Hulle is vrugbaar en in staat om groot werpsels op ‘n slag te hê, hoewel meer as tien kleintjies seldsaam is. Hulle is in staat om tussen vier tot ses werpsels van vyf tot agt kleintjies per jaar groot te maak vir tussen drie tot vyf jaar – afhangende van die kwaliteit en styl waarvolgens hulle bestuur word.

Tweedens het konyne baie min spasie nodig in vergelyking met ander vleisdiere en bied dus die hoogste produktiwiteit per area van alle vleisproduserende plaasdiere. Hulle is hoogs-doeltreffende omsetters van ruvoer in diereproteïene en kan tot 2,72 kg vleis produseer op dieselfde kos en water waaruit ‘n koei slegs 450 g vleis sal produseer. Die energieverbruik per kg gewigstoename is ver minder is dié van skape of beeste.

Konyne kompeteer nie noodwendig vir menslike kos nie en kan vars kombuis-en tuinafval en onkruid benut, hoewel dit nie aanbeveel word as hul enigste kos nie!

Konynprodukte

Konyne bied ‘n reeks produkte vir verbruik of vir handel en by alles kan waarde toegevoeg word deur dit verder te prosesseer. Bygevoegde waarde produkte is bv. die pels wat met die hand gebrei of na ‘n looiery gestuur kan word indien die waarde hoog genoeg is om die onkoste te regverdig.
Pelse vir die mode-industrie moet industrieel gelooi word, maar speelgoed, matte , pantoffels ens., kan handgebrei wees. Mis kan óf in die groentetuin ingewerk word, óf gedroog, verpak en verkoop word.
Die uitslag ratio is besonder hoog. Afhangende van die ras en ouderdom, kan ‘n konynkarkas tussen 50% en 65% van sy lewende gewig uitslag, waarvan tussen 78% en 87% eetbaar is.
Laastens is konynvleis baie voedsaam en smaaklik. Dit het die hoogste verteerbare proteïen-inhoud van alle plaasdiere. Konynvleis het 21.8% verteerbare proteïen-inhoud terwyl hoender 20% en lam 15,7% het. Daarbenewens bevat dit min vet en cholesterol en is ryk aan minerale. Konynvleis is besonder geskik vir invalide-diëte en vir mense wat aan sport deelneem.

Translated by Elna Van Rhyn