Inheemse Bokrasse In Suid-Afrika

©Marinda Louw
Migrerende spesies uit Sentraal-Afrika het suidwaarts beweeg om van die tsetsevlieg en bosluisgedraagde siektes weg te kom en het ‘n verskeidenheid lang-en kortoorbokke met hulle saamgebring. Hierdie bokke kon oorleef op byna enige soort plantmateriaal en het voortgeplant onder uiters strawwe omstandighede. Hulle het gevestig in die doringbosveld van die Oos-Kaap waar bokboerdey floreer het.

Hier het plaaslike boere korthaar, langoor bokke aangeskaf wat die doringagtige plantegroei “oopgemaak het” vir angorabok, skaap en beesboerdery. Wit bokke het voorkeur geniet aangesien hulle makliker was om raak te sien, en gou het teling met ‘n spesifieke sterk gespikkelde ram die eerste Boerbokstoet op die plaas Kaalplaas naby Cradock, opgelewer.

Ekstensiewe boerdery op natuurlike veld is moontlik in groot areas van Suid-Afrka en dit maak dikwels ekonomies sin om meer as een tipe veesoort in die lewendehawe profiel van ‘n plaas in te sluit. Bokke het ‘n groot potensiaal vir ontwikkeling; dit sluit ook in die kommersialisering van inheemse bokboerdery en die ontwikkeling van verwante produkte soos leer.

Nguni Tipe Bokke (Mbuzi)

©IVG
Die Nguni tipe (Mbuzi) is waarskynlik meer volop as die ander tipes inheemse bokke en word dikwels gevind in die hoër reënvalgebiede van Suid-Afrika. Mbuzi bokke is kompak en klein, tot mediumraam, met ooie wat baie kleiner is as ramme. Die profiel van die gesig neig om plat of effens konkaaf te wees, hoewel sommige ramme ‘n effense Romeinse neus het. Horings en baarde is aanwesig by beide geslagte. Die Mbuzi is ‘n veelkleurige ras, met ‘n wye verskeidenheid eenvormige kleure en kort, blink hare. Sommige bokke mag kasjmier produseer in koue winters.

Oos-Kaapse Xhosabokke

©IVG
Die Oos-Kaapse Xhosabok is ‘n medium tot groot gespierde bok. Die gesig is redelik lank en konveks met hangore. Horings word aangetref by beide ramme en ooie, maar baarde kom amper net by ramme en selde by ooie voor. Manlike baarde is groot. ‘n Groot verskeidenheid eenvormige kleure soos wit, swart, bruin en rooi-bruin, bont (twee of meer kleure), gespikkeld, en veral gekolde, blommerige en marmeragtige patrone, en allerhande kombinasies van hierdie kleure kom voor. Die meeste bokke het kort, glansende hare en is geneig om kasjmier te produseer in koue winters.

Noord-Kaapse Spikkelbok

©Deon Vlok
Die spikkelbok se oorsprong is die droë Noord-Kaap en is deur pionierboere daarvandaan na Namibië geneem waar sommige Namibiese boere hulle suiwer gehou het. Die spikkelbok is ‘n goedbespierde, medium tot groot bok. Hulle het groot hangore en beide ramme en ooie het horings. Baarde kom voor by ramme en sommige ooie.

Baarde van ramme neig om groot te wees. Die spikkelbok se kop en bene is feitlik eenkleurig, met ‘n wit bles o p die voorkop tussen die horings. Die hele lyf is wit en bedek met rooi, rooi-bruin of swart spikkels, met ‘n donker streep bo-op die rug en aan die voorkant van die nek. Die meeste het kort, blink hare en produseer kasjmier in koue winters.

Kunenebok (Kaokoland)

©IVG
Uitstekend aangepas by die strawwe klimaat van die Kunenestreek in Namibië, is hierdie bok ‘n slanke, grootraam ras met dun bene. Hulle word dikwels aangetref by die nomadiese Ovahimbas. Die bokke is uitstekende stappers en kan lang afstande aflê om by water uit te kom. Hulle het lang, smal gesigte met groot hangore en beide geslagte het horings. Die Kaokolandbok is ‘n veelkleurige ras (eenkleurig en gespikkeld), met kort, reguit, tot lang gekrulde hare.

Translated by Elna Van Rhyn