Hoogtepunte van die Robbeneiland Toer

Die Veerboot Rit

©David Fleminger
’n Hoogtepunt van die toer is die bootrit na Robbeneiland toe. Die veerboot rit duur ongeveer 30 minute en die uitsig oor Kaapstad en Tafelberg is besonders.

Trouens, al die passasiers probeer met hulle kameras en selfone ’n futiele poging aanwend om die asemrowende vista vas te vang. Videokameras is ook baie algemeen en elke veerboot rit word in die geheel deur ten minste ’n dosyn videograwe afgeneem.

Dit maak dit waarskynlik die mees gedokumenteerde bootrit in die wêreld. Let egter daarop dat die see rof kan word en die ritte gekanselleer word indien die weer ongeskik is.

Daar is twee veerbote wat tans in diens is en elkeen vat sowat 160 mense op ’n slag, so dit is altyd vol. Dit veroorsaak ’n bietjie van ’n gedruk en gestoot, veral wanneer die branders hoog is en die mense van die een kant van die boot na die ander struikel om die uitsig in te neem.

Die veerbote het ’n kiosk wat versnaperings en drankies verkoop, maar kos word nie op die bote voorberei nie. Bier word nie op die rit na die eiland toe verkoop nie, maar slegs op pad terug na Kaapstad.

Na ’n fantastiese bootrit oor die kanaal vanaf Kaapstad, gooi die veerbote anker op Robbeneiland by Murray se Baai. Besoekers klim dan af en loop op pad na die wagtende busse verby swart-en-wit-foto’s van die eiland se verlede.

Die Bustoer

©David Fleminger
Ek het die voorreg gehad om die eiland op my eie te verken en daar rondom te stap. Die bus stop nooit lank nie en jy mag ook nie die bus verlaat om die omgewing te verken nie.

Daar is slegs ’n beperkte tyd beskikbaar en ’n groot aantal toeriste. Daarbenewens is daar ’n gemeenskap van 150 mense wat op die eiland woon en hulle lewens sal grootliks ontwrig word deur ’n konstante stroom vreemdelinge wat deur hulle dorpie loop.

Soos dit is, ry die busse so gereeld dat die plaaslike kinders wat skool toe gaan al gewoond geraak het aan die gesigte wat uit die busse se vensters na hulle staar.

Die Robbeneiland Museum beplan om ’n staproete of bergfietsroete op die eiland bekend te stel. Indien dit gebeur sal ek jou aanbeveel om hiervan gebruik te maak. Jy moet regtig op Robbeneiland rondstap om die krag van hierdie plek te ervaar.

’n Meer volledige beskrywing van die plaaslike gemeenskap en my onoffisiële staproete rondom die eiland kan hier onder gevind word.

Robert Sobukwe se Huis

©David Fleminger
As jy die hawe verlaat ry jy verby die beton ingang met die eiland se logo (’n lelie) en die apartheids-era se leuse, “We serve with pride.

Ons dien met trots” daarop. ’n Effens sarkastiese “Welkom” is ook aan die kant van die ingang geverf.

’n Militêre wagpos van die Tweede Wêreldoorlog is vinnig sigbaar aan jou linkerkant en die grootste deel van die maksimum-sekuriteit gevangenis lê voor jou.

Die bus bly links en ontwyk die pikkewyne, maar stop dan by ’n begraafplaas wat nogal naby die tronkmure geleë is. Dit is die melaatse begraafplaas en die verkrummelende grafte is ’n gedagtenis aan die bejammerenswaardige bewoners.

Die volgende stop is Robert Sobukwe se huis, ’n klein entjie van die dorp af. Die tweevertrekhuisie lyk te klein om so ’n groot persoonlikheid soos Sobukwe te kon huisves.

Dit is egter hier waar hy 9 jaar lank, met feitlik geen menslike kontak nie, gewoon het. Die kennel langs die huis is in 1976, na die Soweto Optogte, bygevoeg. Addisionele honde is toe ingebring om die veeleisende nuwe aankomelinge in toom te hou.

Die bus gaan voort na die Kerk van die Goeie Herder. Hierdie eenvoudige, wit gekalkte struktuur is deur Sir Herbert Baker as ’n plek van aanbidding vir die melaatses ontwerp wat in die Algemene Hospitaal gebly het.

Dit het geen poorte nie en baie klein venstertjies sodat die siekes nie die ander inwoners sou besmet nie. Dit is in 1895 gebou en is ’n nasionale monument.

’n Rit deur die Dorp

Jy ry nou deur die dorp met die mengelmoes van geboue wat ook bekend is as die “Irish Town”. Sommige huise dateer uit die Victoriaanse era toe die eiland ’n hospitaal was en ander is van die militêre beset tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Daar is ook verskeie nuwer strukture wat vir die gemeenskap van bewaarders gebou. Hulle het hier saam met hulle families gewoon toe dit nog 'n apartheids-gevangenis was. Hierdie latere geboue is net so humorloos en saai soos die nasionalistiese politici van daardie tyd.

Die behuising van die ongetroude wit bewaarders is veral aaklig, alhoewel dit beter is as ’n tronksel.

As deel van die verbintenis tot erfenisbewaring word al die geboue op Robbeneiland in ’n min of meer oorspronklike toestand gehou. Die verf kan maar afdop en opknappings word nie toegelaat nie buiten vir die verbeteringe wat nodig is om die geboue staande te hou.

Dit is heeltemal gepas vir ’n museum, maar dit maak die lewe ietwat ongewoon vir die mense wat hier woon en werk. Die Administrasie gebou byvoorbeeld, is rondom ’n ongeverfde beton binnehof gebou en dit herinner mens steeds sterk aan die ou tronk se kantore wat dit lank gelede was.

Selfs in die dorp mag dinge nie verander word nie en die ou gestig vir kranksinnige vrouens staan nog steeds leeg en verlate, ’n toonbeeld van die stomme ellende.

Translated by Ananda Schoeman