Hoe om Koeie Dragtig te Kry

© Chris Daly

Melkbeesboerdery is ‘n deurlopende proses van koeie wat kalf (geboorte gee), melk produseer en weer dragtig raak. Om ‘n hoë standard van reproduksiebestuur te handhaaf, moet die volgende verwagte kalfdatum binne sowat 13 maande van die huidige kalfdatum wees.

Wanneer die kalfinterval (die periode tussen opeenvolgende kalfdatums) lank is, word die melkproduksie van die kudde verminder terwyl die genetiese vordering van die kudde stadiger is. ‘n Hoër melkproduksie en meer kalwers wat jaarliks gebore word is twee ekonomiese voordele van goeie reproduksiebestuur.

Kunsmatige Inseminasie vs Bulle

Natuurlike dekking met ‘n bul kan gebruik word om koeie beset te kry. Vir klein kuddes is dit egter duur om ‘n bul aan te hou en word bestuursprobleme dikwels ondervind. Bulle kan aggressief raak en moet apart van ander diere aangehou word. Bulle moet elke dag gevoer word. Die genetiese vordering is ook beperk omdat een bul op ‘n keer gebruik word.

In die verlede is bulle dikwels tussen melkboere gedeel maar dit het tot die verspreiding van vrugbaarheidsiektes gelei sodat koeie dikwels onvrugbaar geraak het. Dit is vir hierdie rede dat die kunsmatige inseminasie (KI) van koeie ontwikkel is.

Kunsmatige inseminasie is oor die algemeen goedkoper as om ‘n bul te gebruik. Dit is 'n relatief eenvoudige tegniek en behels die deponering van lewendige semen op die regte tyd en plek in die geslagstelsel van melkkoeie vir die bevrugting van die ovum.

Die KI van melkkoeie is ‘n algemene praktyk in kommersiële melkkuddes. Die genetiese vordering in sodanige kuddes is hoër as in kuddes waar bulle gebruik word. Die rede hiervoor is dat semen van bulle van oraloor in die wêreld beskikbaar is teen ‘n laer koste as om 'n bul aan te hou.

Met KI hang die vrugbaarheid van koeie egter af van die vermoë van mense om te bepaal wanneer koeie op hitte kom. Insemineerders moet ook weet hoe om semen op die regte tyd en plek te deponeer sodat bevrugting kan plaasvind.
Kunsmatige inseminasie tegnieke word gewoonlik op 2-dag kortkursusse aangeleer. Soms kan ‘n plaaslike veearts ook die tegnieke demonstreer. Sommige semenmaatskappye doen ook gestruktureerde KI terwyl veeartse ook KI kan doen. ‘Gestruktureerde KI’ is wanneer melkkoeie se hittesiklus gekoördineer word sodat hul op dieselfde dag of binne dieselfde periode geïnsemineer kan word.

By Dr Carel Muller