Hoe Om Inheemse Groente Te Kweek

Om inheemse groente te kweek het jy goeie saad, grond, bemesting en water nodig.

Gebruik Kwaliteit Saad vir Beter Opbrengste

Kwaliteit saad is ‘n fundamentele vereiste vir goeie produksie. Tuisgeproduseerde saad kan ook van ‘n goeie kwaliteit wees indien dit goed geprosesseer, skoon en droog gebêre is.
Die gebruik van kwaliteit saad verseker ‘n hoër opkoms van saailinge (gewoonlik meer as 85%), sterk saailinge en ‘n meer eenvormige plantstand. Goeie saad kan ‘n vinniger groeitempo verseker asook plante wat beter bestand is teen peste, siektes en droogte.
Kwaliteit saad behoort van pes-en siektevrye plante geoes te word. Hulle behoort eenvormig in grootte, kleur en vorm te wees en vry van onkruidsade en kaf.

Indien sade baie klein is, kan hulle met sand of droë kompos gemeng word. Die ratio van sade tot kompos sal verskil, afhangende van hoe dig op mekaar jy jou gewasse wil plant. Meng die sade en sand baie goed en vul ‘n 2-liter koeldrankbottel met die saad-sand mengsel. Maak ‘n gaatjie in die prop van die bottel en saai in ‘n reguit lyn.

Hoe om Inheemse Gewasse te Saai

Span ‘n stuk tou tussen twee penne om reguit, eweredig gespasieerde rye te maak. Spasies tussen rye sal afhang van die gewas wat jy plant. Deur digter op mekaar te plant veroorsaak jy kompetisie vir son en water, maar vir plante wat verspreid groei, beteken dit beter ondersteuning om groter te groei. Wyer spasies tussen plante sal meer ruimte vir skoffel en waterlei verseker.
Gebruik ‘n stok om ‘n voortjie al met die gespande tou langs te maak wanneer jy saai. Skud die saad uit die koeldrankbottel in hierdie voortjie en bedek liggies met grond. Gebruik vars water om jou sade gereeld nat te maak.

Hoe om Mis te Gebruik om Inheemse Groente te Bemes

Alle inheemse Afrika groente benodig mis of kunsmis vir welige groei. Sterk-groeiende plante is bestand teen peste en siektes en sal hoë opbrengste verseker.

Mis afkomstig van ‘n plaas soos bees-, bok- of hoendermis is ‘n laekoste alternatief vir anorganiese chemiese bemestingstowwe of kunsmis en kan boere help om goeie oeste te behaal. Indien ‘n boer ‘n kraal het, is die kraalmis ‘n maklike en koste-effektiewe manier om kompos te maak waarmee groentetuine bemes kan word.
Hoe om kraalmis te gebruik:
Maak die mis bymekaar in die kraal.
Maak klein, kniehoogte hopies. Die hopies kan in die droë seisoen direk in die tuin gemaak word, of dit kan op ‘n plat area naby die kraal gemaak word. Los die mis om eers ordentlik te ontbind voordat jy dit gebruik. Dan sal jy die beste resultate kry.
Meng die mis met grond voordat jy dit in die tuin gebruik.

Hoe om Kompos te Maak van Mis

Deur kompos te maak van mis en dit in die grond in te werk sal jy jou grond se vrugbaarheid verhoog. Dit sal help om voedingstowwe te verskaf vir die plante om sterker te groei.
Om kompos te maak het jy droë materiaal soos die strooi van sorghum, mielies en koring, boontjie-, sojaboon- of grondboontjieranke of selfs droë onkruid nodig. Jy sal ook groen materiale benodig (onkruide, heiningsnoeisels en groenteskille) asook diere afval soos bees-, hoender-, bok- of skaapmis.
Om jou kompos te bedek het jy bogrond, hout, plastiek, stukke afvalmat of droë gras nodig.
Jy het ook water en ‘n graaf of stok nodig om die kompos mee om te keer.
Berei ‘n redelike diep gat voor. Dit kan enige lengte wees, afhangende van die hoeveelheid beskikbare materiaal.
Plaas takkies of opgekapte droë materiaal op die bodem.
Plaas die komposmateriaal in lae in die gat en wissel die droë en klam materiale af. Klam bestanddele is goed soos afvalkos, vrugte, teesakkies en seewier. Droë materiale kan insluit strooi, blare, saagsels en hout-as.
Voeg nou mis, groen materiaal (soos grassnysels) of enige bron van stikstof by.
Bedek met enigiets wat jy het – hout, pastiek, afval matsukke, bogrond, droë gras of strooi om dit klam te hou, maar nie versuip nie. Maak af en toe nat, of laat dit aan die reën oor. Keer elke paar dae om met ‘n graaf of vurk.
Sodra jou komposhoop gevestig is, kan jy nuwe materiaal byvoeg deur hulle in te meng en nie as lae by te voeg nie. Die omkeer van ‘n komposhoop is die sleutel tot die sukses daarvan omdat die lug wat sodoende ingesluit word help om die afbrekingsproses te verhaas en te voltooi.

Translated by Elna van Rhyn