Die Voer van Bokke

© Marinda Louw
Bokke is gewilde diere om mee te boer omdat hulle hoofsaaklik blaarvreters is en dus die weiveld kan deel met grasvreters soos beeste. Omdat hulle hoofsaaklik blaarvreters is, kompeteer hulle nie met die beeste vir voer nie. Boonop kan bokke help om bosindringing te bekamp in Savanna (grasvlakte) en bosveldsteke, maar kan ook oorbeweiding veroorsaak.
Die meeste bokke wat in klein plattelandse dorpies aangehou word (soos inheemse bokke) kry oor die algemeen nie enige graan nie, maar soek self kos om te vreet. Daarom is hul melkproduksie gewoonlik taamlik laag. Om goeie melkproduksie te verseker sal hulle bykomende voedingstowwe benodig en sal baie goed reageer op goeie versorging en aanvullende voeding. Die voerrantsoene van melkbokke, vleisbokke en bokke wat vesel (soos sybokhaar en kasjmier) lewer, sal afhang van hulle produksiestadiums en kondisie. ‘n Dierevoedingskundige of voermaatskappy kan help om ‘n gebalanseerde voedingsplan vir bokke saam te stel.

Voedingsgewoontes van Bokke

©Marinda Louw
Bokke is sensitiewe diere met eienaardige vreetgewoontes. Hulle sal nie voer vreet wat vuil is of sleg ruik nie en hou nie van nat, ou of platgetrapte voer nie. Bokvoer moet skoon en vars wees en altyd in ‘n voerbak geplaas word. Hou voerbakke skoon deur alle oorskiet te verwyder. As hooi gevoer word, moet dit in hooirakke geplaas word of in gerwe aan ‘n boom of ‘n pen aan die muur opgehang word.
Bokke is herkouers en sal liewer peulgewashooi soos lusern en swartbekboontjies (hoog in proteïene) vreet as sorghum, mielies, kuilvoer of strooi.
Koop die beste gehalte voer at jy kan bekostig en berg dit weg van die son en reën. Maak hooi bymekaar gedurende die groeiseison en berg dit vir wanneer voer min is in die droë seisoen. Graan oesreste en droë gras moet fyngekap word alvorens dit aan bokke gevoer word en grane kan gebreek word. Meng deeglik om te verhoed dat bokke slegs die smaaklike gedeeltes uitsoek. As vars voer gegee word moet slegs een dag se voer op ‘n slag gemeng word. Moenie dat voer oud en muf word nie. Enige verandering in die voer van bokke moet geleidelik gedoen word, oor ten minste ‘n week.

Energie en Proteïenbehoeftes van Bokke

©Marinda Louw
Koolhidrate en vette verskaf beide energie. Energie word benodig vir groei, vrugbaarheid, voortplanting en weerstand teen siektes en parasiete. Bokke benodig ook proteïene. Proteïene is die primêre boublokke van elke sel in die liggame van alle diere en is noodsaaklik vir groei, weerstand teen siektes, voortplanting en laktasie (produksie van melk).
Een van die belangrikste voedselkategorieë vir alle bokke is energie – uitgedruk as TVN (TDN- Engels) = totale verteerbare nutriënte. Die totale hoeveelheid voer wat ‘n bok op ‘n dag sal eet word gemeet in terme van ‘Droë Materiaal Inname’ (DMI). Die hoeveelheid droë materiaal wat geëet word hang af van die grootte van die bok, sy aktiwiteit en produktiwiteit. Maksimum DMI sal slegs bereik word indien daar genoeg, smaaklike voedsel is. Die byvoeging van ‘n voldoende hoeveelheid groenvoer tot jou bok se gereelde dieët is noodsaaklik, of jy nou bokvleis of bokmelk produseer. Melkbokke het veral groenigheid nodig - meer as vleisbokke - so maak seker dat jou melkbokke ‘n voldoende voorraad groenvoer het.
As weiveld nie beskikbaar is nie, plant veskeie soorte hibriede gras en klein boompies op ‘n aparte stuk grond.Konsentraatvoer wat baie energie verskaf, is mielies, gort, brouersgrane en katoensaadoliekoekmeel. (Brouersgraan is die soliede residu wat agterbly nadat bier gebrou is. Hoewel gort die vernaamste graan is in die brou van bier, word koring, mielies, rys, sorghum en manna ook gebruik). Voer vir bokke wat baie proteïen bevat, sluit in vismeel, sojaboonmeel, katoensaadoliekoekmeel sowel as brouersgrane.

Translated by Elna Van Rhyn