Die Medisinale Waarde van Heuning

© The University of Waikato Te Whare Wānanga o Waikato
Afgesien daarvan dat heuning ‘n voedsame en energiegewende voedsel is, is dit sedert antieke tye bekend daarvoor dat dit antimikrobies en antibakteries is. Dis gebruik deur Griekse, Romeinse, Egiptiese en Chinese helers om siektes van die ingewande soos maagsere te behandel en as ‘n raat vir oorpyn, seerkeel en hoes ingespan, terwyl lotus heuning in Indië gebruik is om ooginfeksies te behandel.

Heuning word gebruik as behandeling vir infeksies en dit genees wonde, insluitend brandwonde, insekbyte en pitsere. Die aanwending van heuning kan help om wonde wat nie op antibiotika en antiseptika reageer nie, te laat genees. Die viskositeit van heuning hou wonde klam en voorkom infeksie.

Heuning word gebruik om psoriase te behandel, help met die skoonmaak van wonde en regenerasie van weefsel. Verskeie onlangse toetse het ook getoon dat heuning die vordering van kanker verminder.

Mediese graad heuning het kragtige bakteriale aktiwitiet teen antibiotika-weerstandige bakterieë wat lewensbedreigende infeksies in mense kan veroorsaak. Antimikrobiese eienskappe varieer egter volgens die bron van nektar. Heuning wat gebruik word vir medisinale of terapeutiese doeleindes moet minimaal geprosesseer word – gefilter, maar nie verhit nie. Sekere soorte heuning soos Mānuka kan spesifiek bemark word as menslike geneesmiddels weens hul spesiale plantbron en gevolglike unieke eienskappe.

Mānuka Heuning

Die antimikrobiese aktiwiteit in die meeste soorte heuning kan toegeskryf word aan die produksie van waterstofperoksied, ‘n matige antiseptikum. Navorsers by die Nieu-Seelandse Universiteit van Waikato het in 1981 ontdek dat Mānukaheuning ‘n baie hoër vlak van ensieme bevat as gewone heuning. Dit is hierdie ensieme wat natuurlike waterstofperoksied vervaardig. Die antibakteriese sterkte van Mānukaheuning word uitgedruk as UMF – Unique Mānuka Factor – en verseker daardeur die medisinale kwaliteit.

Mānukaheuning beveg Staphylococcus aureus en help om toestande soos aknee, prikkelbare dermsindroom, suur refluks en swak immuunsisteme te behandel.

Mediese Vrywaring

Let assblief daarop dat inligting vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes bedoel is en nie as mediese advies gesien moet word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling deur professionele gesondheidsdienste vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn