Carignan

© Glenneis Kriel

Beskrywing

Carignan is ‘n wyndruif met ‘n swart dop wat hoofsaaklik gebruik word om versnitte en enkelvariëteit wyne te maak. Die oorsprong van die variëteit is onseker.

Oorsprong

Die variëteit is oorspronklik van Spanje en word vernoem na die dorp Cariñena in die Aragon provinsie. Dit is nog altyd verbou in die Languedoc Rousillon streek wat eers deel was van die Catalunya-Aragon koninkryk en toe deel geword het van Frankryk in 1659. Die area onder Carignan verbouing in Frankryk het aansienlik gegroei oor die jare, terwyl dit gekrimp het in Spanje.

Die variëteit het ‘n negatiewe reputasie in die 1970’s gekry toe Franse boere duisende hektaar Carignan geplant het weens sy hoë produksie-kapasiteit sodat hulle kon voordeel trek uit regeringsbystand wat bereken is op produksievolumes. Die gevolg was die produksie van biljoene liter swak gehalte Carignan wyn.

Die area onder Carignan verbouing in Frankryk het sedert 1990 grootliks gekrimp weens staatsinisiatiewe en daar is ook meer gefokus op die produksie van Carignan wyn van beter gehalte.

Ander Name

Die variëteit staan ook bekend as Carignane in die VSA; Carignano in Italië; Carignan noir in Frankryk en Tinto Mazuela of Samsó in Spanje.

Verbouing in Suid-Afrika

In die 1920’s het Prof Abraham Izak Perold die hoop uitgespreek dat Carignan produksie in Suid-Afrika sal uitbrei weens die variëteit se vermoë om te floreer in droë klimate. Dit blyk dat produksie eers regtig begin het in die mid-1970’s, toe die Bassons van Die Slot in Perdeberg een van die eerste wingerde geplant het.

Charles Back van Fairview het himself gevestig as een van die beste produsente van Carignan enkelvariëteit wyne in die Nuwe Wêreld met sy Pegleg Carignan, gemaak van die bosstok-wingerde op Die Slot. Die wyn is vernoem na Cobus Basson wat sy been verloor het op die ouderdom van 17 nadat ‘n trekker omgeval en oor hom gerol het terwyl hy sy pa gehelp het in die Carignan wingerd.

Produksiestreke

Die variëteit het ‘n klein voetspoor in Suid-Afrika, met net meer as 100 hektaar geplant in 2016. Die meeste van hierdie wingerde is in die Swartland, die Paarl en Stellenbosch. Dit blyk dat die beste Carignan wyne verkry word uit ou bosstokke waarvan die produksie beperk word.

Groei

Die variëteit is ‘n welige groeier, met ‘n groot opbrengspotensiaal wat wissel van 15t/ha tot 20t/ha.

Rypwording

Die druiwe word ryp vanaf laat mid-seisoen, in die tweede helfte van Maart.

Korrels

Die korrels is swart, rond en klein tot mediumgrootte. Die doppe is hard en dik.

Blare

Blare is groot, donkergroen, langwerpig en vyflobbig.

Peste en Plae

Die variëteit is kwesbaar vir streepvleksiekte, witroes en donsskimmel en is sensitief vir botritis.

Gebruike

Alhoewel Suid-Afrika besonder goeie enkelvariëteit Carignan wyne produseer, word die meeste daarvan gebruik om die kleur in rooi versnitte met variëteite soos Shiraz, Cabernet Sauvignon en Mouvédre te verbeter. In Frankryk en Spanje word dit dikwels saam met Cinsaut noir, Grenache noir en Tempranillo gepars om lekker drinkwyne te verkry.

Smaak

Die variëteit produseer tipies bessiegeure met ondertone van bosbessie, aarbei en framboos.Translated by Elna Van Rhyn