Blaarslaai

© Louise Brodie
Wetenskaplike naam: Lactuta Sativa
Naam: Blaarslaai
Blaarslaai kom vermoedelik van gebiede in Asië. Die Egiptenare was die eerste produsente wat die plant vir ’n beter smaak as die bitter wilde variëteite ontwikkel het.
Vandag word blaarslaai in kweekhuise en direk in lande geproduseer. Die beheerde atmosfeer in kweekhuisproduksie is baie goed vir ’n deurlopende opbrengs. Dit bevoordeel supermarkte wat vars blaarslaai met ’n langer rakleeftyd vir hulle kliënte wil lewer.
Kommersiële produsente saai steeds blaarslaai direk in die land en het gesofistikeerde produksiestelsels om die gehalte en kondisie te versek

Plant Beskrywing

Blaarslaai het ’n kort stingel van sowat 10 cm waaruit die blare, wat ’n ronde waterryke kop vorm, groei. Die losblaar variëteite se sagte blare vorm ’n roset of ’n regop waaieragtige vorm met smal blare wat inmekaarpas. Blaarslaai is ’n sensitiewe plant, die blare word maklik beskadig en as gevolg van die hoë waterinhoud verwelk dit vinnig. Die vlak wortelstelsel is in die boonste 20 – 30 cm grond geleë en die plant is dus sensitief vir waterstres. Blaarslaai is effens rypbestand.

Gebruike

Blaarslaai word meestal in slaaie of op toebroodjies gebruik.

Grondvereistes en Voorbereiding

Blaarslaai gedy in sanderige leemgrond wat goed dreineer en baie organiese materiaal in het. Die pH van die grond moet tussen 6 en 7 wees. Neem grondmonsters lank voor planttyd en laat dit deur ’n betroubare laboratorium ontleed. Een maand voor aanplanting moet die grond vir optimale produksie voorberei word. Organiese materiaal soos kompos en die ander nodige voedingstowwe moet 300 – 400 mm diep in die grond ingewerk word. Die pH-balans moet ook reggestel word deur kalk vir te suur grond by te voeg.
Een week voor aanplanting moet die grond finaal voorberei word. Die nodige kunsmis en spoorelemente moet met ’n skotteleg in die boonste 20 - 30 cm grond ingewerk word. Dit help ook om die klonte op te breek en onkruid te verwyder. Maak seker dat die plantrye en beddings gelyk en die grond fyn en skoon is. Dit verseker dat die blaarslaai-saad eweredig gesaai word en gelyktydig ontkiem, ontwikkel en groei. Dit is ook ’n goeie bedding vir die uitplant van saailinge.
Baie produsente installeer die drupbesproeiingspype op of in hierdie saadbeddings en bedek hierdie plantrye met ’n plastiek deklaag om onkruid te onderdruk en verdamping te verminder. Die saailinge word dan deur die plastieklaag geplant.

Klimaat

Al die blaarslaai variëteite benodig koel weer en gedy as die temperatuur gedurende die groeiperiode tussen 15°C en 22°C is. As die temperatuur bo 28°C is word die plant te gou volwasse en skiet saad voordat die koppe en blare geoes kan word.

Kultivars

Daar is baie verskillende kultivars, elk met unieke eienskappe en produksiemetodes. Dit is raadsaam om die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte te raadpleeg oor die beste kultivars vir jou omgewing. Die kopers se voorkeur moet ook in ag geneem word.
Die vier tipes blaarslaai met die gewilde kultivars is:
Ysberg: Aviram, Commander, Del Oro, Del Rio, Empire 2000, Frosty, Great Lakes, Summer Gold, Tropical Emperor, Victory, Winter Crisp en Winter Supreme.
Botter: All Year Round, Bibb, Boston en Kragramer Sommer.
Romaine: Green Forest, Green Towers, Ideal, Jericho, Nautilus, Plato en Rubicon.
Losblaar: Grand Rapids, Merlot, Oakleaf, Red sail, Red Fire, Ruby en Simpson.

Translated by Ananda Schoeman