Bestuur van Speenvarke en Groeiers

© National Pork Board, USA
Hierdie afdeling handel oor die versorging van speenvarkies en die ouer groeiers.
Varkboere besef nie altyd dat hierdie geneties gevorderde moderne varkies maar ongeveer 10 weke het om die liggaamskonformasie en ingeboude vleis-tot-been ratio te ontwikkel wat hulle in staat sal stel om te groei van ‘n geboortegewig van 1 to 1.5 kg tot ‘n slagggewig van 90 kg of meer binne net 6 maande nie. Dis oner ideale omstandighede van voer, temperatuur, ventilasie, higiëne, gemak, siektebeheer, parasietbeheer en boerderybestuur.
Veeboerskap (Stockmanship) verwys na die vermoë van die eienaar om bewus te raak van die boodskappe wat varke gedurig oor hulleself aan hulle versorgers stuur. Hier word verwys na hoe hulle lyk, geluide wat hulle maak, hoe hulle ruik, temperatuur en wind, weiering om te vreet, gebrekkige groei, tekens van diarree op die vloer en erge mortaliteit. Die lys is lank en die sensitiewe veeboer sal reageer of hulp soek.

Die Speen van Varkies

Om beter produksie te verseker is die die eerste maand na spening van varkies kritiek en hulle moet spesiale aandag ontvang. Omdat hulle op 6 weke gespeen word, word die varkies op ‘n baie vroeër ouderdom ontneem van die voordele om deel van ‘n groot werpsel saam met hul ma te wees, as wanneer sy hulle self sou gespeen het.
Die rede vir vroeë spening is om die sog ‘n bietjie tyd te gee om te herstel voordat sy teruggaan na die beer toe om weer gedek te word. Van ‘n sog word verwag om ten minste twee werpsels per jaar te produseer, maar sy het minstens een siklus van drie weke nodig om kondisie te herwin. Die speenouderdom is nie streng bepaal nie en dis soms ook voordelig om die werpsel gedeeltelik te speen. Dit beteken dat van die sterker soogvarkies ‘n week vroeër as die ander na die speenhuis geneem word. Omdat daar dan minder kompetisie is, kry die kleiner varkies nou die kans om hul melkinname te verhoog.
Die speningsprosedure is stresvol vir varkies op ‘n aantal maniere:
Varkies word ontneem van die ryk en oorvloedige bron van hul ma se melk, elke uur beskikbaar soos die sog haar melk laat sak. Hulle moet gewoond raak aan ‘n nuwe omgewing, reuke, voerhouers en geluide. Varkies word vermeng met varkies van ander werpsels en mag nodig hê om dominansie te vestig deur middel van gevegte. As varkies van verskillende ouderdomme vermeng word, is daar nuwe bronne van infeksies en parasiete wat eise stel aan die immuunstelsels van die jonger groep varkies wat nie voorheen daaraan blootgestel was nie.

Speenprosedures

©National Pork Board, USA
Die Suid-Afrikaanse wet vereis dat all diere geïdentifiseer moet word, wat ‘n geregistreerde tatoeërmerk in die oor vir varke beteken. Die nommer of kode sal dieselfde wees as dié van die eienaar se beeste. Die nommer word uitgereik deur die Veediefstaleenheid van die SAPS en vereis dat ‘n vorm ingevul word en vir die kode betaal word. Die kantoor van die Staatsveearts kan help.
Roetineprosedures by spening mag ook insluit inenting en brandsiekbehandeling deur middel van ‘n inspuiting. Die knip van sterte en oogtande is nie nodig nie maar ‘n ysterinspuiting behoort gegee te word in die eerste week na geboorte.

Versorging van Speenvarkies

©National Pork Board, USA
Die vernaamste reël in die versorging van speenvarkies vir die varkboer is dat hy ‘n ‘speenhuis’ moet verskaf wat apart, veilig en onder toesig van ‘n versorger is wat moet toesien dat die varkies warm, droog, gemaklik, skoon en goed gevoer is.
Aangesien die groeipatroon en potensiële karkaswaarde op hierdie ouderdom bepaal word, is dit noodsaaklik dat speenvarkies die beste voeding moontlik moet ontvang. Elke meulenaar of koöperasie sal ‘n speenvarkrantsoen hê met 18% tot 20% proteïene, in meel- of korrelvorm. Dit sal duur wees maar vir die kleintrop varkboer is dit die beste belegging.

Versorging van Groeiers

Hierdie term vervang die ou Engelse woord ‘fatteners’ en word gebruik vir die jong varkies wat uit die speenvarkseksie beweeg op 10 tot 12 weke. Groeiers vereis die minste van al die ouderdomsgroepe. Hulle doel is om soveel te eet as wat die boer kan verskaf, mits dit nie bederf is deur vullis, muf of plastiek nie. ‘n 16% Proteïen groeierrantsoen behoort die basis te vorm van groeiers se voerprogram.
Sommige besparings kan bewerkstellig word deur die dieet aan te vul met gereelde voorrade vanaf supermarkte, melkerye, kantiens en groente groothandelaars. Hierdie oorskiet ou kos kan gebruik word om die gebalanseerde dieet aan te vul sonder om die koolhidrate te oordoen. Moenie te veel koolhidrate voer nie. Sommige meulenaars verskaf ‘n aanvulling as ‘n bykomende, spesiale byvoeging. Hoewel varke byna enigiets sal vreet, beteken dit nie dat hulle gemors gevoer moet word nie. Hoe beter die kos, hoe beter is die groeitempo en karkasgradering.

Translated by Ananda Schoeman