Bestuur van Die Sog en Haar Werpsel

©Glenneis Kriel
Die volwasse varke van die teeltrop het ander behoeftes as die speenvarkies en die groeiers en daar moet gesorg word dat daar aan hierdie spesiale behoeftes ten opsigte van behuising, voeding en beskerming teen siektes voldoen word.

Behoeftes van Dragtige Sôe

Tydens dragtigheid het die sog die minste behoeftes (droë sog genoem), maar sy het steeds behoeftes. ‘n Dragtige sog het die ‘geselskap’ van ander sôe nodig en benodig ook beskutting teen die warm son, koue wind en reën.
Sy het genoeg spasie nodig om vryelik rond te beweeg en soos ‘n vark op te tree. Die meeste klein troppies maak nie gebruik van jongingskratte vir hul sôe nie. Sommige varkboere hok net die sôe af vir die eerste paar weke na paring om probleme te behandel en hou die sog dop na haar drie-weke periode om seker te maak dat sy wel dragtig is. Die dragtige vark het genoegsame voer nodig, maar nie te veel nie.
Ongeveer 2 tot 3 kg per dag met alle noodsaaklike bestanddele, insluitend ‘n hoë veselinhoud soos semels, hooi, groenvoer (indien beskikbaar) en ten minste 12% proteïene. Alle meulenaars sal ‘n sog-en-beer mengsel of pille hê en dit behoort ten minste die helfte van die sog se dieet uit te maak met die res afkomstig uit die byprodukte van vervalde of ou of suur bestanddele.
Belangrik: Moet nooit muwwe of stinkende kos vir varke voer nie en beslis geen vleis van diere nie. Vleis is ‘n baie effektiewe verspreider van aansteeklike siektes. Vir die laaste week voor haar verwagte jongingstatum (hou rekords) moet die sog na haar jongingshok verskuif word. Hierdie hut, krat of skerm moet weerbestand, vark-bestand en baie skoon wees met baie beddegoed sodat die sog haar nes kan maak.

Behoeftes van die Nuutgebore Varkwerpsel

©National Pork Board, USA
Dis baie belangrik om te besef dat die temperatuur- en omgewingsbehoeftes van die die sog en haar werpsel baie verskillend is. Die sog hou van koelte terwyl die kleintjies al die hitte wil hê wat hulle kan kry. Dis ‘n goeie idee om vir die kleintjies ‘n ‘kruiphok’, soos ‘n toegemaakte hondehok met ‘n verwyderbare bokant vir maklike skoonmaak en observasie, asook die verwydering en vervanging van beddegoed, te voorsien. Die beste beddegoed is denneskaafsels. Beskerm die ingang sodat net kleintjies kan in en uit en nie die sog nie, veral wanneer die kleintjies gevoer word met hul baie duur rantsoen.
Tensy die sog in ‘n jongingskrat is, is sy geneig om op die stadiger soogvarkies te lê en dit sal lei tot lewensverliese. Die sog het te alle tye onbelemmerde toegang tot skoon water nodig. Die soogvarkies sal ook water begin drink om hul ma se melk aan te vul sodra hulle ‘n paar weke oud is. Nadat haar werpsel gebore is sal die sog ‘n baie ryker dieet nodig hê om voldoende melk te produseer. Dis ideaal om die sogende sog te voer met ‘lactating sow feed’ en baie daarvan – 6kg per dag is nie ongewoon nie.
Die sogende sog moet nooit honger word nie. Voer haar drie keer per dag om oorlading van haar pens te verhoed. Uit nuuskierigheid sal klein varkies hul ma se kos begin vreet as hulle ‘n week oud is, maar die sogkos is nog onverteerbaar vir hulle pensies. Gee liewer vir hulle vir hulle ‘n speenvarkrantsoen vanaf tien dae voordat hulle gespeen word en beperk die daaglikse hoeveelhede tot 250g (koffiebeker vol) vir die volgende vyf dae en verhoog die hoeveelheid daarna daagliks sodat hulle spysverteringstelsels gewoond is aan droë kos wanneer hulle gespeen word.

Behoeftes van die Beer

©Dr Jim Robinson
Daar word soms na die beer verwys as die mees verwaarloosde dier op die plaas ten spyte daarvan dat hy die helfte van die gene, en daarom die kwaliteit van die volgende generasie, verskaf. Die behoeftes van die beer is relatief eenvoudig:
Hy het sy eie beerhok nodig vir die dekking van sôe. Bring altyd die sog na die beer toe en hou rekord van sy dienste. Tussen dekkings kan hy saam met die droë sôe loop – sy teenwoordigheid is voordelig en het ‘n kalmerende uitwerking. Hy sal ook dadelik opmerk dat sôe op hitte is as hulle dalk aborteer het en hy mag hulle dalk gedek het. Hou rekords.
Die beer is dikwels deel van die trop in ‘n vrylopende varkboerdey. Die dekking van sôe sal geskied soos die natuur dit bepaal, wat ‘n paar nadele het. Die varkboer mag nie altyd weet watter sôe dragtig is nie en van wanneer af en deur watter beer (as daar meer as een is) nie. Die verwagte geboortedatums sal ook nie bekend wees nie, wat beplanning mag bemoeilik.
As daar meer as een beer in ‘n trop is, mag hulle veg om senioriteit. Die dominante of enigste beer het geen beperking op hoeveel keer hy elke sog dek nie en kan moeë, minder vrugbare bere en beseerde sôe, veral jong sôe, tot gevolg hê.
Die beer moet gereeld en deeglik behandel word teen brandsiekte want hy verspreid dit gewoonlik na die hele trop toe deur die dekking van die sôe vir 6 tot 15 minute. (Behandeling van brandsiekte is eenvoudig en effektief indien instruksies gevolg word). Beperk die voer van die beer om te verhoed dat hy oorgewig, lui, onvrugbaar en ‘n boelie word. Sy rantsoen sal dieselfde wees as die van die droë sôe.

Translated by Elna Van Rhyn