Ek is vertel dat die eko-roete nogal moeilik en klipperig is, maar onthou tog dat dit nie gebou is as ’n hindernisbaan vir jou en jou masjien nie. Dit is gebou as ’n uitsigvolle, opvoedkundige roete met vele wildbesigtiging geleenthede en dit moet met ’n stadige pas aangepak word.
Die eko-roete is ’n goeie manier om die minder-bekende westelike deel van die park te verken en die roete het ’n aantal uitsigpunte en ’n wildkykskerm. Die roete is omtrent 45km lang en neem tussen 5 en 6 ure om te voltooi. Daar is ’n fooi per voertuig betaalbaar en jy ontvang ’n uitstekende boek en kaart wat al die interessanthede langs die pad uitwys en verduidelik.
Die park se paaie is altesaam omtrent 45km en hulle is almal grond- of sandpaaie. Die meeste van die paaie is toeganklik vir gewone sedanmotors, maar dit sal voordelig wees om goeie suspensie en ’n bietjie afstand van die grond af te hê. Lae, sportmodelmotors sal nie die ervaring geniet nie.
Die oppervlakte van die paaie is gegradueer, maar daar is steeds ’n paar skerp klippe in die pad. Wees versigtig vir ’n papwiel! Voordat jy die park binne gaan, maak seker dat jy ’n spaarwiel het.
Daar is ’n aantal paaie wat slegs gemerk is vir 4x4-motors. Hierdie roetes is nie moeilik nie, maar is problematies vir karre met klein wielle. Neem asseblief kennis dat daar geen brandstof in Mapungubwe beskikbaar is nie. Die naaste vulstasie is in Alldays (70 km) en by Dongola Ranch (30km).
Na die ingang is daar twee hoofroetes wat jy deur die park kan neem. As jy links na Leokwe Kamp draai, kan jy die Treetop Walk en Confluence View Site geniet, asook die piek-niek area. Die regterkantste roete sal jou na die Kanniedood en Khongoni wildkykdraaie, asook Poacher’s Corner neem.
In hierdie deel van die park sal jy ook die aanloklike Schroda Dam en die ruïnes van ’n ou vissershuis waarin Jan Smuts op die bed van die Limpopo-rivier gebly het, vind. Beidie hierdie aanloklikhede is ontoeganklik, maar mens kan kan hoop dat dit in die toekoms ontwikkel sal word. Verskeie roetes in die park is gemerk ‘Geen Toegang’. Daar is verskeie redes hiervoor.
Sommige dele van die park word steeds privaat besit, sommige van die roetes lei na privaat woongebiede van die park se personeel en sommige van die paaie word steeds verbeter en sal in die toekoms, wanneer die omgewing gestabiliseer het, oopgemaak word.
Translated by Nina Joubert